“ONS het werklik ’n lang pad gekom,” sê Troy Hart, hoofbestuurder van die Pearl Valley-gholflandgoed, nadat hy verneem het dat die landgoed se gholfbaan, wat deur Jack Nicklaus ontwerp is, nou as die beste gholfbaan in die Wes-Kaap gereken word.
Dit neem ook die derde plek in nasionaal op die sporttydskrif Golf Digest se jaarlikse lys van die Top100 plaaslike gholfbane. Die eerste twee plekke word gevul deur die gholfbane van Fancourt in die Suid-Kaap en Leopard’s Creek in Mpumalanga.
Hart het gesê wat die baan se onderhoudspan vermag het in die agt jaar sedert dit aangelê is, is ’n bron van groot trots.
“In daardie jaar (2003) het ons in dieselfde kompetisie die toekenning vir die beste nuwe baan van die jaar ontvang. Teen 2006 is dit reeds gereken as een van die tien beste bane in die land toe dit in die kompetisie agste geplaas is.
“Verlede jaar het ons geklim tot in die vyfde plek en vanjaar is ons nog twee plekke hoër. Om daar te kom, het ons die Gary Player-buiteklub by Sun City en Arabella se baan naby Hermanus verbygesteek.”
Die baan, een van die min in die Wes-Kaap wat in alle weerstoestande gespeel kan word, het ook drie keer die tydskrif Compleat Golfer se lys van Vyfster-ervarings gehaal.
Daarbenewens is die Suid-Afrikaanse Ope Gholftoernooi van 2007 tot 2009 elke jaar daar gespeel.
Die baan, wat 212 hektaar op die wal van die Bergrivier beslaan, is daarby die topbaan in die land waarop lede van die publiek mag speel.
“Die gholfbaan was uit die staanspoor ’n uiters belangrike faktor in die bemarking van Pearl Valley wat in 2009 deur Golf Digest as die land se beste gholflandgoed aangewys is.”
Volgens Hart is Pearl Valley egter veel meer as net ’n gholfbaan.
“Dit bied ’n oorkoepelende leefstylervaring wat vir die hele gesin voorsiening maak.
“Sy moderne ruitersentrum word vandag aangevul deur ’n leefstylsentrum van 6 500 m² wat benewens ’n klubgebou ook voorsiening maak vir sportgeriewe, ’n spa, konferensiegeriewe en restaurante.”