PLEKNAME in die Boland kom uit alle windrigtings, en meesal uit net soveel tydperke – die Hollanders was natuurlik nie die eerste naamgewers van die streek nie.
Benewens die vroeë bewoners waarvan ons weet, naamlik die Khoi en San, het ook die Portugese seevaarders name toegeken.
Toe Van Riebeeck hier aangeland het, was daar ook al Nederlandse name soos Tafelberg en met die latere landtogte deur ontdekkers het name soos Paarlberg en Groot-Bergrivier gevolg.
Die Portugese het die Groot-Bergrivier die Santiaguo genoem, volgens die skeepsjoernaal van Vasco da Gama se skip se San Raphael (7 November 1497).
Ene Nicolas Coelho is toe gestuur om met die rivier op te vaar en hy het dit vir 96 kilometer gedoen.
Die naam Groot-Bergrivier is gegee deur Abraham Gabbema, die leier van die derde ekspedisie wat deur Van Riebeeck uitgestuur is.
In Van Riebeeck se joernaal word genoem dat hierdie ekspedisie in 1657 op soek na die Saldanhas stam (Cochoqua) was en dat die geselskap langs die rivier oornag het. Die naam se oorsprong word verbind met die “skynbaar onoorkombare reeks berge” wat hulle pad versper het en dat die rivier dus ’n indrukwekkende natuurmag moes wees om dáár deur te kon vloei. Gabbema het ook die geronde granietkoppe “den Diamandt en Peerleberghe” genoem, omdat die son so skerp van die twee koepels weerkaats het.
Die Klein-Bergrivier is so gedoop deur Pieter Cruythoff se ekspedisie (met Krotoa alias Eva se man, die Deen Peter Meerhoff as dagboekhouer) in 1661. Hy het melding gemaak van die talle seekoeie in die rivier.
Gedurende die vroeë 1800’s het die ontdekker Henry Lichtenstein amper daar verdrink en genoem dat dit die enigste rivier binne die grense van die destyds Kaapkolonie was waar seekoeie voorgekom het.
Goewerneur Ryk Tulbagh, die eerste Kaapse goewerneur wat hier gebore was, het bepaal dat enigiemand wat ’n seekoei sou skiet, met 1 000 gulde beboet sou word. Hierdie vroeë voorbeeld van natuurbewaring was waarskynlik die rede waarom daar toe nog seekoeie voorgekom het.
Ook Van Riebeeck het in sy tyd gelas dat geen hout meer in Houtbaai gekap mag word nie, so Tulbagh se proklamasie was nie uniek nie.
Die eerste permanente nedersetting hier langs die rivier het ontstaan nadat goewerneur Simon van der Stel in 1687 plase aan vryburgers (VOC-amptenare wat uit diens van die Kompanjie getree het om vir hulself te werk) toegeken het.
Uit hierdie klein kernnedersetting van Hugenote op 23 plase (die grootste gemeenskap ná dié van Kaapstad en Stellenbosch) het die dorp Paarl gegroei.
Teen 1699 was daar reeds 122 plase. Ongeveer 60% van die nedersetters was afkomstig van Franssprekende omgewings in Europa (die grense was tóé anders as nóú), 17% was Nederlanders en 9% was Duitsers.
Uiteraard was daar ook slawe uit die Ooste en Afrika, asook Khoi mense wat op plase begin werk het. Vandag leef en werk daar meer as 100 000 mense in die Paarl en die bevolking is so divers as enige ander plek in Suid-Afrika.
Wat nie die laaste 324 jaar verander het nie, is die name van die bakens waarvoor die dorp bekend is.