Stappers maak geskiedenis
2005-10-13
VYF Paarliete het vanjaar weer deelgeneem aan die Boland 90 Bergstap-kompetisie, bekend as die moeilikste en taaiste bergstap in die land.
Die vyf het ook presteer deur hul onderskeie afdelings te wen.
Tommie Goliath (64) was deel van ’n veteranespan (50jr en ouer), die Sunbird Vets van Kaapstad, wat die veterane-afdeling gewen het.
Dit is die tweede jaar agtereenvolgend wat sy span die top veterane is. Hulle was vanjaar ook algeheel vierde onder die vyftig spanne wat deelgeneem het.
Team Elangeni van die Paarl, met Maxwell Africa, Natalie Arries, Wilna Manas en Jeffrey Mouton, het die gemengde afdeling gewen. Hulle was ook algeheel vierde.
Dit is die eerste keer dat ’n Paarlse span enige afdeling van die Boland 90 wen.
Boland 90 vind reeds 15 jaar plaas en in dié tyd het verskeie Paarlse spanne al die prestasie probeer behaal.
Die kompetisie vind jaarliks plaas in die Hottentots-Hollandberge naby Grabouw.
Stappers voltooi 90km oor drie dae. Hul teoretiese en tegniese kennis omtrent bergstap word ook deeglik getoets, soos rivier-kruisings, kennis omtrent fauna en flora, noodsituasies, ens.
Ook is die bergagtige terrein moeilik om te stap, terwyl elkeen ook met bykans 12 tot 15kg toerusting loop, en deelnemers se fiksheid word tot die uiterste beproef.
Spanne van vier neem aan die kompetisie deel en punte word verdien op talle aspekte, soos staptyd, toerusting, kennis en hantering van noodsituasies.
Net 23 van die 50 spanne wat vanjaar ingeskryf het, het as vol spanne klaargemaak.
More
News
|