DIE Stellenbosse Simfoniese Blaasensemble (USSBE) bied Saterdag 2 April om 20:00 ’n Blaasorkes-extravaganza aan in die Endler-saal op Stellenbosch.
Konsertgangers word aangeraai om vroeg op te daag aangesien die Frank Pietersen Musieksentrum se Koperblaasensemble onder leiding van Rudolph Engel gaste vanaf 19:20 in die voorportaal sal vermaak.
Die eerste helfte begin met Simply Brass, ’n koperblaasensemble van die Morawiese Blasersbond van Suid-Afrika (BBSA), met tien spelers.
Die eerste helfte sluit af met die Stellenbosch Universiteit se Jeug-jazzorkes, onder die leiding van Felicia Lesch. Hulle sal ’n aantal populêre items uitvoer, insluitend I Got Rhythm, Beach, They Can’t Take That Away From Me, van Gershwin (met Mihi-tuwi Matshingana as vokalis), Waiting for Phoebe en Rio de Huesos.
Die tweede helfte van die konsert begin met die Hoërskool Bellville Simfoniese Blaasorkes met oud-Matie Riaan van Wyk as dirigent.
Die konsert eindig met ’n uitvoering deur die gashere van die aand, USSBE, onder leiding van Pamela Kierman, en student-dirigent, Jason Rodrigues, met ’n opwindende program van werke soos Seagate Overture (Swearingen), Scenes from The Louvre (Della Joio), ’n Suite van Villa-Lobos, en Earth Song van Jackson, verwerk deur na-graadse komposisie-student Arthur Feder. Die laaste item is A Billy Joel Portrait.
Daar sal verversings te koop aangebied word gedurende die pouse.
Kaartjies (R90/70) is verkrygbaar by Computicket op 083-915-8000 of www.computicket.com.
Vir meer inligting, kontak die Konservatorium by 021-808-2358.