DIE Wellingtonse skrywer, Winnie Rust, het so pas ’n nuwe boek gepubliseer: “Margie van die Seminary”.
Die boek word op 14 April om 19:00 by die Breytenbach-sentrum bekend gestel.
In hierdie boek word die verhale van ses vroue wat hul op een of ander tyd in Wellington bevind het, met ’n fyn hand aanmekaargeweef.
’n Skrywer onthou haar ma se verhaal oor hoe sy onwillig voor die liefde geswig het ná haar jare in die Wellingtonse Seminary.
In die aftree-oord waar haar ma gebly het, kom sy af op die agterkleinkind van Elizabeth Rolland, ’n sendelingvrou.
Van hier volg sy die spore na van nog vroue wat hul eens op ’n tyd in Wellington bevind het.
Die skrywer ,Winnie Rust, woon al meer as sestig jaar op Wellington. Sy is betrokke by die Wellington Museum en het bygedra tot “Die geskiedenis van Wellington en distrik tot die jaar 2000”.
Hieruit vloei haar eerste roman: “Martha – die verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford”, wat die kortlys vir die Jan Rabie/Rapportprys 2005 haal.
In 2006 is ’n verhaal, “Lei vriend’lik lig”, opgeneem in die bloemlesing oor plaasverhale van Riana Scheepers, Die melkweg het ’n ster laat val.
Sy was nog altyd baie betrokke by lees- en poësiekringe; het ook van tyd tot tyd poësieprogramme opgestel en boekbesprekings gehou. Sy het vier kinders en ses kleinkinders.