TE midde van opgewondenheid by die Breytenbach-sentrum op Wellington oor twee splinternuwe kursusse wat binnekort aangebied gaan word, is daar pas ook aangekondig dat een van die sentrum se bekendste fasiliteerders ’n eerste prys in ’n groot, landwye kunskompetisie losgeslaan het.
Annalise Schoeman, die sentrum se projekbestuurder, sê hulle werk reeds lank daaraan om ’n behoorlike kuns- en fotografieskool by die sentrum te vestig.
Pas nadat hulle daarin geslaag het om vir Tessa Louw, ’n Johannesburgse skilder wat ook lank ’n kunsskool bedryf het, as hoof van hulle nuwe kunsskool aan te stel, het dit bekend geraak dat Desireé Malan, ervare fasiliteerder van kunsklasse by die sentrum, die eerste prys in ’n groot kunswedstryd van die tydskrif Leef gewen het.
“Dié nuus onderstreep verder ook die sukses wat twee van ons ander fasiliteerders, Fanie Marais en Marlene von Maltitz, pas behaal het toe ’n Wêreld deur ‘n Venster, die uitstalling van die studente wat hulle spesiaal in die gevangenis op Malmesbury oplei, ’n belangrike prys op die jongste Woordfees op Stellenbosch losgeslaan het.
“Desireé se eerste prys in die Leef-wedstryd span die kroon op die uiters suksesvolle manier waarop ons werksaamhede vir 2011 kon wegspring. Sy het die prys gewen na aanleiding van die sukses wat sy behaal het om mense nie alleen te leer om mosaïekwerk te doen nie, maar veral om hulle te bemagtig om met ’n splinternuwe, lonende beroep te begin.
“Dit is toevallig juis waarom ons so lank reeds agter skerms werk om ’n volwaardige kunsskool by die sentrum te vestig. Ons wil voornemende kunstenaars uit die omgewing op ’n veel groter skaal oplei en bemagtig om selfstandig as kunstenaars ’n lewe te maak.”
Tessa Louw, die hoof van Kreasie-Stasie, die Breytenbach-sentrum se nuwe kunsskool, is reeds die afgelope 30 jaar bekend as kunsskilder en ook as hoof van ’n Gautengse kunsskool.
“Die opwindendste kunsprojek waaraan ek tot dusver deelgeneem het, was die vier opdragstukke wat ek vir die 70ste verjaarsdag van die skrywer, Chris Barnard, moes skilder. Die tema was Barnard se toneelstuk, Taraboemdery.
“Ek het portrette geskilder van die drie hoofspelers in die stuk - Richard van der Westhuizen, Neels van Jaarsveld en Neil Sandilands - en ook ’n landskapskildery gemaak van die omgewing waarin Taraboemdery veronderstel is om af te speel. Die vier skildery is toe met groot sukses tydens die In-die-Bos-kunstefees op Nelspruit opgeveil.”
Volgens Louw gaan die Breytenbach-sentrum se nuwe kunsskool sy deure kort ná die komende skoolvakansie oopmaak.
Studente betaal R400 per maand vir die kursus wat elke Dinsdag oor ’n tydperk van 10 maande aangebied gaan word. Alle mediums sal in detail gedek word. Daarna is daar ook ’n ekstra kursus van twee maande waarin studente gevorderde skilderwerk sal doen.
Die skool sal ook ’n kursus aan skoliere aanbied en skoliere wie se ouers nie die klasgeld kan bybring nie, kan by die sentrum aansoek doen om finansiële steun.
Louw is ook besig met voorbereidings om binnekort ’n volwaardige fotografie-skool by die sentrum te open.
Meer besonderhede kan by 021-873-2786 verkry word.