Peoples wen Super 4, Rangers maak skande
2005-10-13
DIE Tiere van Young Peoples Rugbyklub het Vrydagaand vir Albions as Super 4-kampioen onttroon.
In ’n baie fisieke wedstryd het Peoples 17-6 die pyp gerook.
Die verdedigende kampioene het binne die eerste kwartier vier sleutelspelers gehad wat die veld weens bloeding moes verlaat.
Bloeding aan die mond en neus van Jenovan Cornelissen (flank) en die oogbank van Morné Goetham (agsteman) het veroorsaak dat dié spelers deurentyd die veld moes verlaat.
Dit het Albions se spel heelwat ontwrig en hul ritme versteur. Hulle kon gevolglik ook nie by hul spelpatroon hou nie.
Daarteenoor het die Tiere met aggressie in losgemale en vaste fasette hul stempel op die wedstryd afgedruk en gekoppel met goeie verdediging vir Albions uit die prentjie gehaal.
Rustyd het Peoples 7-6 voorgeloop nadat hul kaptein en skrumskakel, Barry Williams, gaan druk het. Morné Williams was in die kol met die doelskop.
Albions se twee strafskoppe is deur die losskakel, Jacques Hendricks, oorgeklits.
In die tweede helfte het Lorenzo Abels (regtervleuel) Peoples se voorsprong verleng met nog ’n drie, wat ook deur Williams verdoel is.
Twee minute voor die einde het Williams met ’n verdere strafskop geslaag.
Die spelers van Paarl Rangers se koppe het behoorlik gehang na die plaateindstryd teen Young Gardens, maar dit was nie omdat hulle verloor het nie.
Die wedstryd is ná sowat 20 minute afgeblaas nadat Rangers se stut, John Williams, een van die lynregters in die gesig gespoeg het. Lynregter Bernard Johnson het Williams uitgewys vir trap in die skrum. Die voorry is deur die skeidsregter gewaarsku, maar Williams het hom min daaraan gestuur en Johnson met die vuis gedreig voordat hy op hom gespoeg het. Die wedstryd is dadelik afgeblaas is.
Hoewel Rangers op daardie stadium 7-6 voorgeloop het, is Young Gardens as die plaatwenners aangewys.
More
News
|