Goolam steeds doring in die vlees
2011-03-31
’n PAARLSE sakeman, Goolam Doola Mohamed, kan net nie uit die skuld bly nie. Mohamed het reeds ’n geruime tyd gelede die nuusopskrifte gehaal, toe hy verskeie Paarlse besighede, veral verskaffers van boumateriaal, ingeloop het. Mohammed het voorheen hardeware-winkels in die Paarl besit soos SA Builders Supply, GM asook Tile Centre. Deur die jare het hy talle sakemanne ingeloop deurdat hy hulle nie vir hul dienste vergoed het nie. Hieroor het hy al talle kere op aanklagte van bedrog en wanbetaling in howe in die Boland en Kaapstad verskyn. ’n Paar jaar gelede is die Mohamed-gesin se woning te Mont Roselaan 29, Charleston Hill, byna opgeveil nadat ’n interdik hiervoor bekom is deur ’n Epping maatskappy. Die aansoek is op die nippertjie gekeer, toe Mohamed diep in sy sakke gekrap het om sy skuld te betaal. Maar nou is hy weer in die penarie, en dit skaars ’n paar maande nadat hy ’n splinternuwe besigheid begin het. Mohamed het verlede jaar die deure van Bergrivier Boulevard Fruit & Veg oopgemaak, nadat Fruit & Veg City sy deure hiér toegemaak het. Hy het links en regs advertensies geplaas (wat hy nog nie betaal het nie). Op hul beurt, is die gemagtigde eienaars van Fruit & Veg City ook besig met ’n hofgeding met Mohamed, omdat hy hul geregistreerde handelsmerk onregmatig gebruik. Nadat dit onder Fruit & Veg City se aandag gekom het dat Mohamed ’n winkel oopgemaak het op dieselfde perseel as waar die vorige Fruit & Veg City was, en die naam behou het, is hy deur dié maatskappy se regsafdeling gevra om die naam van die gebou te verwyder. Hy het versuim om dit te doen en ’n aansoek is na die Kaapse Hooggeregshof verwys om Mohamed te dwing om die naam Fruit & Veg van sy perseel te verwyder. Die aansoek was suksesvol, maar steeds pronk hierdie naam by Mohamed se besigheid. ’n Regsverteenwoordiger van Fruit & Veg City, Nigel Meintjies, het gesê dat verdere stappe geneem sal word teen Mohamed indien hy versuim om die Hooggeregshof se uitspraak te eerbiedig. Maar nou beweer Mohamed dat hy die deure van sy besigheid gaan toemaak. * A Paarl businessman continues to clash with the law .
More
News
|