Skrootdief vas by Weltevrede Sekondêr
2011-03-31
’n SKROOTDIEF is verlede week op heterdaad betrap op die skoolterrein van Weltevrede Sekondêre Skool. Hierdie skool naby Wellington sukkel al ’n geruime tyd met skrootdiewe wat stelselmatig die skool wegdra. Derduisende rande se skade is reeds aangerig. In die kleedkamers word staal-wasbakke, metaalpype en kraankoppe gesteel. Wanneer dié gesteel word, word daar ook duisende rande se waterskade aan geboue gerig. Verder is die bedrading van die diefalarmstelsel al verskeie kere gesteel en selfs hele vensterrame, asook die skool se heining. Maar verlede week is een oortreder vasgevat op die perseel. Donderdag is daar weer vasgestel dat skrootdiewe hulle mannewales op die skoolperseel uitgehaal het. ’n Gat is deur die dak se plafon gebreek en elektriese bedrading wat gekoppel was aan die alarmstelsel, interkom en internet in die dak is gesteel. ’n Werknemer van Weltevrede Sekondêr wat ondersoek ingestel het, het kort hierna, helder oordag, ’n verdagte op die perseel betrap met ’n tuisgemaakte sak wat tot oorlopens toe vol was van gesteelde elektriese kabels. Die man is aangekeer en beveel om te wag vir die aankoms van die polisie. Die skade wat aangerig is met die steel van die drade word beraam op R150 000. Francois Adonis (24) is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Weltevrede se skoolhoof, Nealle Albertus, het die arrestasie verwelkom: “Ons hoop dat hierdie oortreders nou daarvan bewus sal wees dat ons op ons hoede is. “Hierdie diefstalle ontwrig ons onderwysdoelwitte erg. Ons vra dus die gemeenskap om hul oë oop te hou vir enige verdagte persone naby ons perseel, en dadelik die polisie te skakel.” Inwoners van dié gebied kan direk hul polisie-sektorvoertuig skakel op 082-302-1904 vir spoedige reaksie. * A scrap-metal thief was caught redhanded at a school in Wellington, with thousands of rands worth of stolen copper cables.
More
News
|