Skoolseun met mes gesteek vir foon
2011-03-31
’n MATRIEKLEERLING van Klein Nederburg Sekondêr is vandeesweek nie net beroof nie, maar is in die proses met ’n mes gesteek. En om dinge te vererger is hy die derde leerder van Klein Nederburg wat binne ’n week van sy selfoon beroof is. Daven Bester (18), ’n matriekleerder aan dié skool, het Dinsdagoggend omstreeks 07:00 vanaf Daljosafat langs Van der Stelstraat na die skool gestap saam met ’n ander leerder, toe hulle naby die skool deur twee jong mans gekonfronteer is. “Hulle het my skielik gegryp en gesê dat hulle my selfoon wil hê. Ek het dit uit my sak uitgehaal, maar hulle het my nogtans met die mes in die arm gesteek.” Bester se vriendin is ongeskonde gelaat. ’n Motoris wat die bloeiende Bester langs die pad gesien het, het hom in sy motor gelaai en na die Paarl-Oos polisiestasie geneem. Die polisie is vinnig na die toneel van die aanval, waar een verdagte in hegtenis geneem is. Maandagmiddag is nog ’n leerder van die skool, dié keer ’n meisie, gegryp toe sy die hekke van die skool verlaat het. Sy is ook met ’n mes gedreig en van haar selfoon beroof. ’n Soortgelyke voorval het verlede week met nog ’n leerder plaasgevind. Skoolhoof Mary Banda het die voorvalle sterk veroordeel. “Dit is ’n toenemende probleem en dit is onaanvaarbaar dat skoolkinders deur boewe geteiken word. “Ons weet nie wat die antwoord is nie, maar het reeds met die polisie onderhandel dat hulle ’n oog oor ons skoolhek hou wanneer die skool uitkom. “Verder vra ons leerders om in groepies te stap en om nie hul selfone by hulle te dra nie.” ’n Negentienjarige man, William van der Merwe, is in hegtenis geneem in verband met die aanval op Bester. * A learner of Klein Nederburg Secondary School, was stabbed in the arm during a cellphone robbery.
More
News
|