Baie voltalle in eerste toernooi
2011-03-31
IN die eerste Ope Uitdaag veerpyltjiekompetisie van die Drakenstein Veerpyltjie-vereniging wat die afgelope naweek plaasgevind het, het 10 spanne meegeding om dié gesogte titel. Flenters het as oorwinnaars uit die stryd getree met Ambassadors in die tweede plek gevolg deur Kappa en Drakenstein. Spanne het mekaar van die begin af getakel en geen genade is gevra of betoon nie. ’n Titaniese stryd het gewoed tussen Flenters en Tungsten, en die uitslag is eers met die laaste gooi bepaal. Die jong spelers van Drakenstein-klub het weer eens bewys dat hulle nog die kaarte later in die seisoen vir hulle senior teenstanders deurmekaar gaan krap. Ambassadors en Kappa se spelers kan hulself op die skouer klop vir hul vertonings en kan beslis aanspraak maak op ’n paar trofeë vir die seisoen. Mount View, Allandale en Charlies kon ongelukkig nie uitklophoue op die regte tyd plant nie, maar het deurgaans goeie spel gelewer. Die individuele spel deur top spelers kan later vir die keurders ’n groot kopseer besorg wanneer streekspanne later in die seisoen gekies gaan word. Voltalle (180) is gelewer deur Nico Barties (3), Eduardo Solomons, Gavin Kulsen, Edward Noble, Mervyn Jones, Mc Daniel Daniels, Shane Benn, Charl Pietersen, Elrico Smith en Norman Taute. Leon Wehr en Anthony Fischer van Ambassadors het elk ‘n 171 (3 trippel 19) gegooi terwyl Mervin Isaacs (Mount View) die totaal van 105 toegemaak het. Petronella Lottering (Charlies) spog met die 89 onder die dames. Die 2011 seisoen het reeds groot vreugde gebring toe die 20-jarige Charl Pietersen van die Drakenstein-klub vir die Protea-span gekies is. Pietersen, ’n oud-leerling van Kylemore Hoërskool, gaan later vanjaar Suid-Afrika verteenwoordig tydens die Wêreldbeker-toernooi in Ierland. Hy het in 2008 as onoorwonne Suid-Afrikaanse Junior Enkelkampioen reeds bewys dat hy ’n speler van formaat is. Gedurende die 2009 SA Kampioenskappe het hy van sy meer ervare senior spelers goed laat les opsê. Verlede seisoen was hy nasionaal vir die sesde keer gekeur. Hy spog reeds met verskeie titels.
More
News
|