Boland o.21's mik vir liga-bevordering
2005-10-13
DIE Boland o.21 rugbyspan kan volgende jaar in die top liga speel, maar hulle sal eers môre vir Griekwas in die eindstryd van die B-afdeling moet klop.
Die Bolanders sal in aksie wees tydens ’n voorwedstryd vir die Curriebeker Skild-eindstryd tussen die Valke en die Poemas op Brakpan.
Boland het vanjaar vyf van sy ses wedstryde gewen.
Grens (43-7), Valke (31-26), Poemas (47-5), Griffons (43-41) en Griekwas (49-29) moes almal teen die Wellington-span aan die kortste ent trek.
Slegs SWD het die Boland 48-26 laat vasval.
“Griekwas was reeds verseker van ’n plek in die finaal, so hulle het nie hul sterkste span in die veld gestoot nie. Ons verwag Saterdag ’n heel ander wedstryd,” het die Boland o.21-afrigter, Lance Sedin gesê oor sy span se onlangse 49-29 sege teen Griekwas op Kimberley.
As die Bolanders môre wen, sal hulle volgende jaar saam met die groot honde - WP, Blou Bulle, Vrystaat, Natal en Luiperds - in die A-afdeling blaf.
Die OP wat vanjaar nie ’n wedstryd kon wen of ’n enkele punt kon kry nie, sal afsak na die B-afdeling.
Volgens Sendin sal die span weer swaar leun op sy losskakel, Otto Lück.
Danksy Lück, ’n oud-Boland Landbouer wat tans by die Technikon op Wellington swot, se skopvoet is hy tans die voorste puntemaker in die o.21-liga.
Sy 26 doelskoppe en nege strafdoele het hom ’n totaal van 79 punte besorg. Kort op sy hakke is Griekwas se Tobie Botes met 70 punte.
Albei spelers sal dié seisoen bo-aan die punteleer wil afsluit en daar kan verwag word dat ’n hewige kragmeting tussen dié twee skoppers sal heers.
’n Ander speler waarvoor die Griekwas lugtig sal wees, is Gotti Damon.
Dié regtervleuel het vanjaar al agt keer gaan druk, die naasmeeste drieë in die kompetisie.
“Ons het baie slaankrag met ons vleuels,” sê Sendin, maar voeg by dat die buitesenter Claude Arendse ook ’n gevaarman is.
More
News
|