Polisie skiet op vroue, kinders
2011-03-31
Lise Beyers
DIE Paarl-Oos polisie is vandeesweek behoorlik in die spervuur, nadat talle vroue en kinders Sondagaand beseer is toe daar op hulle geskiet is met rubberkoeëls en donshael. Die voorval het plaasgevind nadat sowat 50 inwoners van Plumbagostraat, Klein Nederburg, op die informele woning van ’n vermeende dwelmhandelaar toegesak het, in protes teen sy onwettige praktyke. Volgens die inwoners verkoop hy nie net self dwelms aan kinders nie, maar hy verhuur ’n opslaanhuis wat hy op munisipale eiendom opgerig het tussen twee woonstel-blokke aan immigrante, wat op hul beurt ook dwelms verkoop. Die polisie is ingeroep om die skare uiteen te probeer jaag. Hulle is ’n tweede keer ontbied deur die vermeende dwelmhandelaar se vrou en dit is toé dat die skote begin klap het. Hierna moes nege vrouens en kinders na Paarl Hospitaal vervoer word vir behandeling weens skietwonde. Een van die beseerdes, Susan Adriaanse van Bauhenia-woonstelle, se hakskeen moes met tien steke toegewerk word nadat sy deur donshael getref is. ’n Bejaarde vrou, Mary Vanniel (67), het ses beserings opgedoen weens donshael. En die drie-jarige Clushken Arries se arm is op twee plekke gebreek in die stormloop om weg te kom vanuit die chaos. Vensters is ook stukkend geskiet in die voorval en motors beskadig. Adriaanse vertel dat hulle al jare lank met beide die polisie en die Munisipaliteit ’n stryd voer oor die vermeende dwelmhandelaar. “Ons sien met ons eie oë hoe dwelms oop en bloot verkoop word. Sondag het ons genoeg gehad van hierdie man se onwettige bedrywighede en wou met hom gaan pleit om hiermee op te hou. “Maar in plaas daarvan dat die polisie teen hom optree, is ons geskiet. “Hoe kan jy dit regverdig dat so op vroue en kinders geskiet word? Watter skade sal ons nou eintlik kon aanrig?” Verder vertel Adriaanse dat die informele woning wat op munisipale grond staan, deur buitelanders gehuur word teen R2000 per maand. “Dit is mos onwettig, maar die Munisipaliteit doen ook niks hieromtrent nie.” Hierdie gemeenskap het ’n geweldige probleem met dwelms, veral onder tieners. Een van die slagoffers van die skietvoorval het vertel dat dit nie vreemd is vir kinders so jonk as 12 jaar om dwelms te gebruik nie. ’n Woordvoerder van die polisie, a/o Diana Linee, het gesê dat die skietvoorval intern deur die polisie ondersoek sal word. “Dit is nog duister wat na die skietery gelei het en die voorval sal intensief ondersoek word.” * Women and children were injured on Sunday evening, when police opened fire on a crowd of people who were protesting against the sale of drugs in Paarl East.
More
News
|