Boland sal wedstrydplan moet afdwing
2011-03-31
Sieb Sieberhagen
DIE tuisveld-voordeel moet benut word en wedstrydplanne moet afgedwing word, maar die Boland Kavaliers kon dit verlede Vrydag nie op die Boland-stadion teen die Pumas in ’n Vodacombeker-wedstryd regkry nie. Die Pumas het die wedstryd met 26-17 gewen. Die wedstrydplan om die bal lug te gee en die swaarder voorspelers van die Pumas te troef het effens in die eerste helfte deurgeskemer, maar met die draaislag en die wind van voor, was die wind ook uit die seile van die lug-gee-en-wyd-speel plan van die Bolanders. Die harde lakwerk van die besoekers was dalk te veel vir die Wynboere, maar die onnodige afstaan van balbesit gaan nie vir die Bolanders wedstryde laat wen nie. Dit is nie ’n wedstryd wat die handjie vol toeskouers sal onthou nie, maar die opflikkeringe van hardlooprugby, wat soms te bespeur was, sal nou verder gevat moet word. Halwe gapings moet nou heel gapings word en spelers soos Elgar Watts, Willie le Roux, Bolla Conradie en Brandon April moet hulle ondervinding gebruik om die verloordroogte te breek. Loffie Elof, direkteur van afrigting, het drie veranderinge en twee posisionele veranderinge aan sy beginspan aangebring vir môre se Vodacom-wedstryd teen die Luiperds op Potchefstroom. PJ van Zyl draf uit op agtsteman, Allister Kettledas op linkervleuel en Braam Gerber op binnesenter. Cornal Hendricks skuif vanaf regtervleuel na buitesenter en Brendon April skuif vanaf linker- na regtervleuel. Manie Adams, ’n heelagter van Roses United wat hierdie seisoen reeds vir sy klubspan beïndruk het, neem sy plek in op die reserwebank. “Die ouens weet wat voorlê en wat van hulle verwag word,” sê Eloff oor Vrydag se wedstryd teen die manne van Potch. “Ek is bly dat ons tydens die Vodacombeker-kompetisie teen sterk Premierliga spanne te staan kom. Dit is ’n kompetisie waarin die spelers hulself teen sterk opposisie kan meet ter voorbereiding vir die komende Curriebeker-kompetisie.” Môre se wedstryd teen die Luiperds op Potchefstroom skop om 18:00 af.
More
News
|