Boishaaiers jaag wêreld warm
2005-03-24
DRIE leerders van die Hoër Jongenskool is besig om die wêreld aan die brand te ry in vierwielmotorfietswedrenne ("quad") in die Wes-Kaap.
Hierdie sportsoort is besig om landwyd al hoe gewilder te word, veral vanweë die betrokkenheid van Motorsport SA en die WPATV (Western Province All Terrain Vehicle Club).
Hierdie klub beywer hom daarvoor om wedrenne en byeenkomste in die Wes-Kaap uit te brei en aan te moedig.
Die drie Boishaaiers, almal in graad agt, wat tans besig is om die bane van die Wes-Kaap warm te jaag is Waldo de Wet, Adam van Heerden en Chad Hanafey.
De Wet is ‘n lid van WPATV en word as een van die gunstelinge beskou om vanjaar die junior sportman-kampioenskap in te palm. Met sy Droomers-geborgde Yamaha Raptor het hy reeds die eerste drie baanwedrenne (“motocross”) op die klubbyeenkomste op indrukwekkende wyse gewen.
Buiten die taai kompetisie van Van Heerden en Hanafey, is ander jong jaers soos Jess Theart van Velddrif en Matthew Lambert van Kaapstad ook besig om die lewe vir die boorling van Bellville moeilik te maak.
Waldo het eers verlede jaar begin om aan hierdie sportsoort deel te neem en was reeds in sy eerste jaar uiters suksesvol. Hy het die titel van junior sportman van die WPAV in die junior klas verower en het ook op streekvlak tweede in die Wes-Kaap in die junior kategorie geëindig.
Volgens Waldo het hy sy sukses hoofsaaklik te danke aan ‘n goeie ondersteuningspan en die ervaring en leiding van sy afrigter, Shaun Gunther, die 2004 nasionale uithouwedren-kampioen.
Die sport maak voorsiening vir twee klasse - die senior-klas vir jaers 16 jaar en ouer wat op motorfietse met enjingroottes van 200cc ry en die junior klas waar die jaers met motorfietse met enjins van 150cc jaag.
Volgens die WPATV is die junior sportmanklas van groot belang vir die sport aangesien dit die juniors voorberei voor hulle op die ouderdom van 16 met die groter motorfietse in die senior klasse begin meeding.
Vir meer inligting oor hierdie sport of die aktiwiteite van die WPATV klub, skakel Geoff Kelly by 082-578-5884, Renè Venter by 083-303-6060 of Bridgette Lambert by 559-5250 of besoek www.wpatv.co.za.
* Three Boys’ High pupils are setting race tracks on fire in quad bike racing, a sport which is becoming increasingly popular.
More
News
|