Bergrivier peper Wellington
2005-10-13
DIE skare het Saterdag op Wellington behoorlik gejuig - maar dit was nie die tuisskare wat die spelers so aangemoedig het nie.
Die eerste span van Bergrivier Krieketklub het Wellington ’n ordentlike loesing gegee deur hulle met 97 lopies te klop.
Die besoekers het eerste kans gekry om te kolf. Albei spanne moes egter drie boulbeurte prysgee toe die wedstryd later begin het, weens die nat veldtoestande.
Marquin Julies (62) het voorwaardelik ’n kapteinsbeurt gespeel en in sy beurt een ses en sewe grenshoue gemoker.
Julies was die spil waarom die besoekers se kolfbeurt gedraai het en sy bestendigheid het daartoe bygedra dat Fabian Arendse (35 4x7) en Morné de Vries (34 4x3) die boulers swaar gestraf het op pad na hul totaal van 190.
Henco Borman (3/30 in 14bb), Ryan Groeneveldt (3/50 in 15bb) en Christo Ritter (3/32 in 10bb) was die tuisspan se beste boulers.
Die Wellington-kolwers se sorge het vroeg begin en hulle was op 4/12 reeds teen die planke.
Lincoln Dampies het in sy derde beurt vier paaltjies laat kantel en die kolwers op ’n mismoedige streep terug pawiljoen toe gestuur. Hy kom uiteindelik met ’n skitterende boulontleding van 5/26 in sewe boulbeurte spog.
Dawie Malan (51 4x9) was al kolwer wat saam met Ritter (16 6x1, 4x1) ’n dubbelsyfertelling kon aanteken.
Malan het hard probeer teenstand bied, maar moes teen die einde toekyk hoe sy span vir 93 uitgeboul word.
Ashwill de Vries (2/19 in 9bb) en Ryan Mouton (2/26 in 8bb) het die orige kolwers in die stof laat byt.
Dit is die tweede agtereenvolgende keer dat Bergrivier hul bure met die kous oor die kop terug huis toe stuur.
Die tweede spanne se wedstryd is nie gespeel nie, nadat Wellington nie die speeltoestande van die veld wou aanvaar nie.
Bergrivier I speel Saterdag tuis teen Paarl-Oos, terwyl die tweede span na die Paarl reis om op die New Orleans-veld te speel. Wellington I speel tuis teen Young Peoples.
More
News
|