Roses oortuig met nog ’n wen
2011-04-07
DIE eerste rugbyspan van Roses United het sy onoorwonne status in die Boland Premierliga behou deur die span van Abbottsdale oortuigend met 43-15 te verslaan in ’n wegwedstryd. Roses het rustyd met 15-8 voorgeloop. Die Rose se voor- en agterspelers het sommer met die afskop verwoed aangeval. Voorlangs het Keenan Abrahams (vaskopstut) ’n reuse wedstryd gespeel. Hy het veral die teenstanders laat bontstaan met sy vernietigende kraglopies. Boonop het hy soos ’n tier verdedig. Alrich Erasmus (agsteman) en Tertius Nel (oopkantflank) het ook uitgeblink. In die agterlyn het Wayne Matthee (binnesenter) puik spel gelewer. Matthee was veral op die verdediging ’n doring in die vlees vir die tuisspan. Angelo Booyse, wat as plaasvervanger opgedraf het in die tweede helfte, het baie woema kom gee aan die Rose se agterlyn met sy spoed en systappe. Theo Marinus (losskakel) het ook weer beïndruk met sy aanvallende spel. Vir die Rose het Abrahams 2 drieë gedruk. Die ander driedrukkers was Justin Morgan (vleuel), Denver Fortuin (buitesenter), Alrich Erasmus, Wayne Matthee en Angelo Booyse. Percival Williams (skrumskakel) was suksesvol met vier doelskoppe. Die Rose, wat eerskomende naweek ’n loslootjie het, pak Wellington/CPUT op 16 April in ’n derby-wedstryd op Boland-stadion (B-veld).
More
News
|