Pniel Villagers skop goed af
2011-04-07
DIE eerste rugbyspan van Pniel Villagers het Saterdag daarin geslaag om Young Peoples met 36-12 te troef en sodoende die nuwe seisoen goed afgeskop. In ’n wedstryd met baie hoogtepunte kon die besoekers nie al die gate toestop nie en in die proses het die tuisspan vyf drieë gedruk teenoor die twee van die Tiere. Die grondslag vir die oorwinning is deur die Pniel agttal gelê wat aan die agterlyn hope goeie balle besorg het, waarvandaan aanvalle geloods kon word. Die groot uitblinker hier was Strafred Geldenhuys (flank) wat ’n reuse-wedstryd vir sy nuwe klub gespeel het en ook welverdiend as speler van die wedstryd aangewys is. Die jeugdige slot Paul-John Robyn het ook ’n paar goeie dinge gedoen en was verantwoordelik vir heelwat omkeer-besit. Vir albei spanne lê daar harde werk voor omdat te veel ongedwonge foute begaan is wat soms die wedstryd se ritme versteur het en geleenthede om punte aan te teken daardeur verspeel is. Agterlangs het Edwin du Preez op losskakel bestendig vertoon alhoewel Eugene Francis (skrumskakel) nie altyd goeie diens gelewer het nie. Met rustyd was die tuisspan reeds met 22-5 voor. Die driedrukkers was Hilton Wentzel (2), Edwin du Preez, Frans Boonzaaier en Eugene Francis. Du Preez het ook met drie doelskoppe en een strafdoel geslaag terwyl Stefanus Cedras met ’n doelskop geslaag het.
More
News
|