Hond vasgemaak en verlaat
2011-04-07
’n VREEMDE voorbeeld van dieremishandeling het verlede week in die Paarl sy kop uitgesteek. Danie Swiegelaar het omstreeks 10:00 verlede Woensdagoggend toevallig op ’n uitgeteerde hond afgekom wat met ’n tou vasgemaak was aan ’n lamppaal in Edisonstraat, oorkant die Daljosafat-verkeersentrum. Swiegelaar het sy vrou Yolanda gebel en haar gevra om die Paarl DBV te kontak. Maar dinge het van hier af nie so vlot verloop nie. Maar weens ’n tekort aan personeel het die DBV die munisipale hondevanger geskakel en versoek om die hond op te laai. Volgens Suzette Theunissen van die DBV het sy persoonlik omstreeks 10:30 die munisipaliteit geskakel en hulle het gesê dat hulle binne tien minute die hond sou gaan haal. Teen 11:00 was die hond steeds nie by die DBV nie, en toe die munisipaliteit weer geskakel is, beweer hulle dat wetstoepassingsbeamptes reeds by die hond is. Na ’n heen-en-weer gebellery is die hond eers om 15:15 aan die DBV besorg. “Ons was daardie dag besig met ’n sterilisasieprogram en een van ons lede was met verlof,” vertel Theunissen. “Dus het ons die hulp van die munisipaliteit aangevra.” Ten spyte van sy beproewing sterk die hond tans goed aan by die DBV. * Dit is die munisipaliteit se plig om rondloperhonde op te tel en die DBV se plig om na mishandelde diere om te sien. Maar, sê Theunissen, weens diereregulasies wat nie meer toegepas word in Drakenstein nie, teel honde eenvoudig net aan en dit lei tot verwaarlosing en dikwels mishandeling. “Die DBV het ook eenvoudig net nie genoeg hulpbronne om meer personeel aan te stel om hierdie reuse taak by die horings te pak nie.”
More
News
|