Fietsryer getakel in stil straat
2011-04-07
Lide Beyers
DIT lyk asof fietsryers nou in die Paarl geteiken word, nadat ’n plaaslike fietsry-entoesias verlede week aangeval en beroof is. Rodney Kitching het verlede Woensdagoggend oudergewoonte om 05:00 met sy fiets by Brugstraat opgery om by mede-fietsryers in Suider-Paarl aan te sluit vir ’n daaglikse oefensessie. Maar hy was nog besig om die slaap uit sy oë uit te vryf toe hy skielik aangeval is. “Ek het by Brugstraat opgery en ’n motor voor ’n huis in Elizabethstraat (agter Boishaai se sportvelde) gewaar met sy ligte aan. “Die motor het skielik teen hoë spoed daar weggetrek. Ek kon hoor hoe sy bande tot by die Hoofstraat skreeu.” Maar wat Kitching nie verwag het nie, is dat die motor skielik sy verskyning sou maak in Brugstraat en teen ’n hoë spoed op hom sou afpyl. “Alles het so vinnig gebeur, ek kon net nie vinnig genoeg uit die pad uit kom nie. Toe die motor my tref het ek na die een kant, en my fiets na die ander kant, deur die lug getrek.” En asof ’n engel na hom omgesien het, het Kitching byna ongedeerd op sy voete te lande gekom. “Ek het my stukkende fiets gegryp, dit op my skouer gesit en begin hardloop. Maar die motor het onder in Brugstraat omgedraai en weer op my afgepyl.” Dit is toe dat hy na die naaste woning gehardloop het, sy fiets op die grond neergegooi en oor ’n meter hoë heining gespring het, op soek na hulp. Die mans het intussen gestop, sy fiets in die kattebak van die motor gesit en weggery in die rigting van Hoofstraat, waar hulle ingedraai en suidwaarts gery het. Hulle het glo teen so ’n spoed gejaag, dat hulle nog ’n fietsryer byna van sy fiets afgery het. By Enslinstraat het die waterbottel vanaf Rodney se fiets in die pad geval. Die polisie is ontbied, maar teen daardie tyd was die aanvallers skoonveld. Toe die voorval plaasvind, was die lig steeds baie swak en ooggetuies is onseker van die presiese fabrikaat van die motor. Kitching het gesê dat hy vermoed dat dit ’n Audi of VW luikrugmotor is, gryserig van kleur. Hy het self nie die nommerplaat opgelet nie, maar ’n ooggetuie beweer dat dit ’n CA registrasienommer het. ’n Klag van diefstal word deur die Paarl polisie ondersoek. * A cyclist was repeatedly attacked by two men in a vehicle last week in a quiet Paarl street and robbed of his bike.
More
News
|