Independent Flyers vlieg hoog
2011-04-14
DIE plaaslike veerpyltjiespan, Independent Flyers (Strangers), het gedurende die afgelope Western Cape Classics-toernooi op Piketberg stof geskop in die oë van menige teenstander. Op pad na bekerglorie het hul oortuigende oorwinnings behaal oor Sauls (Tygerberg), Kappa en Mount View (Drakenstein), Dolphins (Weskus) asook Hawks (Swartland). Met die ervare Danny Daniels wat van voor af gelei het, het hulle slegs in die rondomtalie rondes vasgeval teen die span van Atlantic (Ocean View). Hierdie span het weer eens bewys dat ervaring gekoppel met die vegsvernuf van jeug, die grondslag lê vir sukses in dié formaat van die spel, want terwyl die jongmanne in Elrico Smith, Craig Johnson asook Ettiene Festus geesdriftig hul vegvernuf ten toon gestel het, het die meer ervare Edward Noble en Brian Williams die manne tot kalmte en fokus gemaan. In ’n spannende finaal teen die span van Glenville (Westelike Provinsie) gelei deur Protea-speler Clifford Stradling, is die spreekwoordelike jakkals in die hoenderhok losgelaat en het Independent Flyers bo-oor hul meer bekende teenstanders geloop met ’n 7-0 oorwinning. In die dames-afdeling het die span van Kappa (Drakenstein) op ’n drafstap tot in die finaal gevorder. Op pad na die finaal het hul selfs ’n skok-oorwinning behaal oor die manspan van Mount View gelei deur Mervin Isaacs (Protea bestuurder - juniors). Alhoewel hierdie ervare strydros moedig sy span tot sukses probeer lei het, het die dames die toeskouers en spelers na hul asems laat snak met ’n teenaanval wat hul teenstanders tot op hul knieë gedwing het. Oorgerustheid het ongelukkig die span duur te staan gekom en in die finaal kon hul net-net nie die knoop deurhak nie en vasgeval met 7-6 teen Dolphins (Weskus). Dít nadat hul die Dolphins in die blok rondes maklik met 9-4 kon klop. Die hoogste toemaak deur ’n dame was gelewer deur Maxi Keet (118) en Audrey Arendse (Kappa). Charl Pietersen (Drakensteinklub) het gespog met die meeste voltalle (180’s) gelewer in die onderskeie afdelings.
More
News
|