AAN die moeders van Plumbagostraat, Klein Nederburg:
Ek het die berig van 31 Maart (polisie skiet op vroue, kinders) met ’n knop in my keel gelees.
Die gebeurtenis op 21 Maart 1960 in Sharpeville waarby die polisie op onskuldige en ongewapende mense losgebrand het, sou tog nie weer herhaal moet word nie.
Al was dit rubberkoeëls, ’n moeder stry vir die veiligheid, vryheid en ’n toekoms van haar kind en moenie so behandel word nie.
Die kinders is die toekoms en moet beskerm word van onveilige en onwettige praktyke. Deur die dwelmhandelaar te beskerm, gee jy die kind nie ’n eerlike kans nie.
Die polisie, maar ook die Munisipaliteit, is ’n verklaring aan die moeders verskuldig.
Aan die moeders kan ek alleen maar my bewondering uitspreek vir hul moedige optrede.
Hoewel die protes teen dwelmhandel nie vreedsaam verloop het nie, het julle aandag gevestig op die probleem en ek hoop so dat daar daadwerklik iets aan gedoen word deur die instansies.
* Ook ’n mededeling aan die inbrekers by NP Hoërskool - julle neem die kinders se kans op ’n geleerdheid weg deur die rekenaars te steel. Het julle geen gewete nie?
Besorgde moeder