BESOEKERS kan uitsien na ’n propvol program dié naweek, by die Mega Steak Week wat vandag afskop by Hoër Landbouskool Boland in Agter-Paarl.
Teler, produsent, verwerker, handelaar en verbruiker word uitgenooi om te kom deel in die kundigheid, vernuf en top-gehalte produk wat die Wes-Kaapse rooivleisbedryf bied.
Daar sal verskeie opleiding-, inligting en demonstrasie-sessies wees. Die tentoonstelling van verskeie gewilde vleisbeesrasse en beoordeling sal ook hoog op die agenda wees.
’n Verdere trekpleister, afgesien van die heerlike, sappige biefstuk wat hier geniet sal word nie, is vars en verwerkte vleis wat teen mededingende pryse te koop aangebied word.
’n Landbou-arbeidskonferensie word Saterdag aangebied vanaf 09:30 tot 13:00 met Gerrit van Rensburg (minister van landbou Wes-Kaap) en Christo Somers, die huidige Wes-Kaapse plaaswerker van die jaar, onder die sprekers.
Dit word alles afgerond met lekker vermaak en musiek - sommer hope pret en avontuur vir die hele gesin. Besoekers kan uitsien na gaskunstenaars soos Waldo Lotz en Die Broers, Rodeo Bull-ritte, kleiduifskiet, beeskaskenades, skolerugby tussen Hoërskool DF Malan en Hoër Landbouskool Boland, en sommer nog vele meer. Toegang beloop R30 (R12 vir skoolgaande jeug) maar toegang tot die rugby is gratis.
Vir navrae, kontak Reinette Basson by tel 021-863-0701 of eventsadmin@agrimega.co.za.