Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarl Print-brand se roof weer oopgekrap

Paarl Print-brand se roof weer oopgekrap
 
2011-04-14

Lise Beyers

SONDAG sal die tweede herdenking wees van sekerlik die Paarl se donkerste dag, die Paarl Print-brand. Die uitslag van die brandondersoek is aan die vervolgingsgesag oorhandig, wat sal besluit of iemand vervolg moet word.

Dertien mense het hul lewens verloor, nadat die brand op 17

April 2009 by die Paarl Print fabriek ontstaan het in Oosterlandstraat, Dal Josafat. Die brand het in die kafeteria ontstaan toe die olie in ’n elektriese aartappelskyfie-braaipan aan die brand geraak het. Dit het vinnig in ’n vuurpoel ontaard wat die fabriek verswelg het.

Agt werknemers (Patricia Stoffels, Joseph Johnson, Jenelle Pietersen, Hilton Blankenberg, Thys de Vries, Gerhard Mans, Marshall Diedericks en Marcelle Basson) het tydens die brand gesterf.

Vyf ander werknemers (Pieter Saayman, Danielle Albertyn, Sharon Adonis, Liezl Jacobs en Eric Peters) het later weens hul beserings in die hospitaal omgekom.En twee jaar later soek familielede steeds antwoorde oor die oorsaak van die brand.

Verlede jaar is ’n brandondersoek geloods wat deur die Departement van Arbeid gelei is om vas te stel presies wat die oorsaak van die brand was.

Tydens die openbare ondersoek is getuienis aangehoor dat die brand vinnig deur die dak versprei het omdat die isoleringsmateriaal, Kulite, nie geskik was nie.

Daar is ook getuig dat hierdie materiaal goedkoper is as die een wat in die gebou se planne gespesifiseer is.

Getuienis is ook gelewer dat die brandalarm afgeskakel was vir instandhoudingswerk en dat sommige nooduitgange gesluit was. Daar is beweer dat hierdie uitgange gesluit is om diefstal te keer.

En ’n brandingenieur, dr Philip de Vos, het getuig die gebou het nie aan verskeie brandregulasies voldoen nie.

Op die vooraand van die herdenking van die Paarl Print-brand, het familielede vertel dat hulle nie sal rus totdat die volle waarheid van die brand ontbloot is nie.

Titus Pietersen, pa van Jenelle, is steeds platgeslaan deur sy dogter se tragiese dood.

“Ek sal nie kan rus totdat ons antwoorde gekry het nie. Hoe nader die herdenking van Jenelle se dood aankom, hoe erger raak dit vir ons. Dit is asof ’n roof weer oopgekrap word.”

Die moeder van Hilton Blankenberg, Lydia, verlang nie net daagliks na haar seun nie, maar sy is ook bitterlik kwaad.

“Hilton was ons geliefde seun en ook ons enigste broodwinner. Daar het nie veel gekom van die beloofde ondersteuningsfonds wat op die been gebring is vir die families van die slagoffers van die brand nie. Op ons bejaarde ouderdom sukkel ons nou om kop bo water te hou.”

Edwin Stoffels, wie se vrou Patricia gesterf het, het gesê dat die brand onherroeplik sy lewe en dé van hul twee jong kinders, Robynn (9) en Edley (4), verander het.

“Hulle verlang baie na hul ma, veral in hierdie vormingsjare. Hopelik sal ons eendag weer ’n gelukkige volle gesin wees.”

Stoffels het die openbare ondersoek bygewoon, en volgens hom het baie dinge toe vir hom duidelik geword.

“My persoonlike opinie nadat ek alle getuies gehoor het, is dat Paarl Print nalatig was en nou die blaam op ander pak.

“En ek voel ongelukkig daaroor dat niemand by hierdie maatskappy om verskoning gevra het vir wat gebeur het nie.”

Sondag beplan die families van oorledenes om hoofsaaklik ’n familiedag te hê, asook om blomme op hul geliefdes se grafte te plaas.

Die perseel is verkoop en die nuwe eienaar het toegelaat dat ’n boom geplant word ter herdenking aan die oorledenes en ’n granietmonument sal ook daar opgerig word (sien advertensie op bl 7).




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za