Gesteelde motor in stukke gebreek
2011-04-14
Lise Beyers
AL wat ’n polisieman van Mbekweni nou van sy nuwe motor oor het, is die klanktoestel en ’n paar enjinonderdele. Dit kom nadat die motor van kst Josef George onlangs van reg voor die Mbekweni polisiekantoor gesteel is terwyl hy aan diens was. Die motor het spoorloos verdwyn en die diefstal is eers vasgestel toe hy die volgende oggend van diens af gekom het. Maar inligting is deur die polisie ontvang wat hulle na Gugulethu gelei het. Hiér het hulle op ’n motor afgekom, ook ’n VW Golf, en agter in die motor was George se duur klanktoerusting. ’n Man (23) is in verband hiermee gearresteer, maar is tot die teleurstelling van speurders weer op borgtog van R300 vrygelaat. Verlede week is nog inligting ontvang wat lede van Mbekweni polisie gelei het na nog ’n motor, dié keer ’n VW bakkie wat voor ’n woning in Mbekweni geparkeer was. Die enjin van die voertuig is ondersoek en daar is vasgestel dat van die enjinparte afkomstig is vanaf George se motor. Daar is steeds geen teken van die res van George se motor nie, maar dit is waarskynlik stelselmatig uitmekaar gehaal en as onderdele en skroot verkoop. Mbekweni polisie stel steeds ondersoek in en hoop dat hulle ’n motordiefstalsindikaat hierdeur sal ontbloot. * Verlede Vrydagaand is ’n blou Toyota Hi-Lux bakkie vanaf die parkeerterrein van Paarl Mall gesteel. En Saterdagmiddag is ’n rooi Ford Laser motor gesteel vanuit die parkeerarea van Shoprite in die Paarl.
More
News
|