Hitte duur steeds voort
2011-04-14
Lise Beyers
VOLGENS boere was dit beslis ’n lang, warm somer. Boere van uitvoervrugte vertel dat hulle derduisende rande verloor het, toe vrugte gemik vir die uitvoermark beskadig is toe dit uit die hitte geneem is en verkoel is. Vrugte bars weens die skielike verandering in temperatuur. “Dit is die eerste jaar dat ek so ’n groot verlies ly ná kwaliteitsverlies weens die hitte,” vertel een boer van Wemmershoek. “Dit was beslis baie warm, en die oneweredige weerspatrone het ook ’n invloed gehad. “Die een oggend sal dit nat gedou en koel wees, en die volgende is dit om 06:00 reeds 26°C.” Wynboer Pieter Hanekom van Franschhoek sê dat in die geheel was die gemiddelde somerstemperature 2,5% hoër as vorige jare. “Ons het ook verlede winter nie genoegsame reën gehad nie, en gepaard met die versengende hitte die afgelope klompie maande, droog ondergrondse waterbronne op. “Weens te min water begin vrugtebome en wingerde nou te stres.” Volgens keldermeester Danie Marais van Windmeul-wynkelder, was dit inderdaad ’n baie lang, warm somer, maar die algemene kwaliteit van vanjaar se wyndruiwe-oes is goed. “Van ons kultivars se korrels was ’n bietjie kleiner as gewoonlik, maar dit beteken ook dat die geur en kleur meer intensief is. Veral die Chenin Blanc se kwaliteit gaan baie goed wees. “Daar was beslis ’n drastiese toename in die temperatuur. Tydens Februarie was die dae waar temperature bo 35°C gestyg het, baie meer as vorige jare. “Watergewys was dit ook ’n moeilike jaar, want ons ondergrondse watervlakke was van die begin af laag. Ons het nou reën nodig om wingerde se reserwes weer op te bou. “Maar ten spyte van die warm somer het ons goeie oeste gehad. Hulle sê mos dat naas die mens is die wingerd ’n wonderwerk van die Skepper, juis omdat hy so aanpasbaar is by uitermatige omstandighede.” Die bruto dam-stelsel wat die Kaapse Skiereiland en Boland voed, wat bestaan uit die Voëlvlei-, Bergriver- Wemmershoek-, Steenbras- and Theewaterskloofdam, toon tans ’n geweldige afname in hul kapasiteit in vergelyking met hul vlakke op 1 Desember 2010. ) Maar terwyl ongekende April hitte steeds voortduur, vrees die Bergrivier Besproeiingsraad dat uitermatige reëns in die winter tot groot skade kan lei vir boere. Sommige weervoorspellers meen ’n buitengewone swaar reënval vir die Wes-Kaap kan voorlê vir die komende winterseisoen. Dit het daartoe gelei dat die Bergrivier Besproeiingsraad as voorkomende maatreël gesprekke gevoer het met die Departement van Waterwese en Stad Kaapstad, wat onderskeidelik die Bergrivierdam en die Wemmershoekdam naby Franschhoek beheer. Alle betrokke partye sal dus op ’n gereedheidbasis wees indien vloede sou voorkom. Die Bergrivier Besproeiingsraad implementeer verder tans ’n waarskuwingstelsel waarvolgens al sy lede op kort kennisgewing van enige potensiële vloede gewaarsku kan word. * Fruit farmers have suffered some damage during the long, hot summer.
More
News
|