'Pastoor' skuldig aan bedrog
2011-04-14
Lise Beyers
DIE berugte Paarliet, Marthinus Gouws, is verlede week skuldig bevind aan bedrog. Die kleurvolle Gouws word daarvan beskuldig dat hy aan Sarah van Wyk, die moeder, van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak, voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms gehad het met advokaat Deon Desmond van Rooyen, waarvolgens hy as “agent” vir Van Rooyen sou optree. Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is dus R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te kry wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Die klaer het ’n lening aangegaan en die totaal van R11 050 aan Gouws gegee. Daar het egter geen ooreenkoms tussen hom en Van Rooyen bestaan waarvolgens hy as agent vir Van Rooyen optree nie. Gouws het onskuldig gepleit op ’n aanklag van bedrog, maar sy streke het Woensdag tot ’n einde gekom, toe streeklanddros Nonawethu Smile hom skuldig bevind het. Die saak is uitgestel tot 10 Mei vir vonnisoplegging. Gouws het gevra dat hy eerder onder korrektiewe toesig geplaas word. Redes vir sy geskiktheid hiervoor sal dan aangehoor word. Hy bly uit op borgtog van R1000. * Gouws, ’n selfaangestelde “pastoor”, kon deur die jare net nie uit die kollig bly nie. Verlede jaar is ’n saak van bedrog ook teen hom aanhangig gemaak, nadat hy na bewering drank aangekoop het vir sy kerk, Africa Evangelistic Foundation Ministries, en daarvoor betaal het met ’n ongeldige tjek. In 2005 is ’n saak van verkragting deur ’n tienermeisie teen Gouws aanhangig gemaak, ná ’n voorval in die Welsynskantore in die Paarl. Albei hierdie sake is egter later teruggetrek. Die gemeenskap van Paarl-Oos het in 2007 gewys hoe voos hulle vir Gouws se manewales was, deurdat ’n mosie van wantroue ingedien is by die Paarl-Oos Gemeenskapspolisieforum deur wyse van ’n petisie met meer as 1000 handtekeninge op, waarna Gouws uiteindelik uit die forum geskop is. * The maverick Paarl East “pastor”, Marthinus Gouws, has been found guitly of fraud.
More
News
|