MET die afsterwe van ’n goeie vriend verlede jaar is ek nie seker of ek eerder hartseer of kwaad is nie.
Die groot rede hiervoor is dat Reynier van Schalkwyk nie net ’n goeie vriend was wat dit veral geniet het as ek ’n pofadder, skilpadjie of skaapstertjie vir hom braai. Hy was ook ’n belese man wat deur sy gesprekke my laat kyk het na die wyer prentjie van dinge.
Maar so het Reynier siek geword en op die ouderdom van 79 het hy gevoel dat hy al genoeg geleef het. Hy het die wêreld deurreis, ’n suksesvolle besigheid op die been gebring en selfs ’n oorlog oorleef.
Maar nou was dit tyd om te gaan. Dus het hy ophou baklei teen die siekte wat in sy liggaam gewoed het.
En dit is juis waaroor ek kwaad is. Die feit dat hy nie net nog ’n bietjie bly leef het nie, tot 21 Desember 2012 om te sien wat op daardie dag sou gebeur.
Want Reynier het graag gelees oor die voorspellings van hierdie beweerde einde van die mensdom.
Die antieke Maya-volk het lank voor ander kalenders uitgevind is, akkuraat tred gehou met dae, maande en jare.
Hul kalender is ook gebruik om toekomstige gebeure te dokumenteer wat vir hul samelewing belangrik was. En volgens kundiges oor hierdie kalender, eindig dit plotseling op 21 Desember 2012.
Nou is daar ’n string beweringe dat dit die einde van die wêreld beteken. En talle wen hulle erg op oor hierdie voorspellings. Hulle verwag dat die aarde deur ’n reuse aardbewing of tsunami vernietig sal word (dalk nie so ver van die waarheid nie), of deur ’n verpletterende komeet getref sal word, of selfs dat die ruimtewese, ET, en sy trawante hier te lande gaan kom en die mensdom verwoes.
Maar Reyniertjie het nie sulke kataklismiese gebeure vir die einde van die wêreld voorspel nie, maar hy het immers dieper in die betekenis hiervan ingelees.
Hy het geglo dat die tyd nader staan vir die einde van die huidige tegnologiese tydperk en die begin van ’n nuwe siklus.
Reynier was ’n baie suksesvolle sakeman. Sy wyntenks van vlekvrye staal kan gesien word vanaf Stellenbosch tot by Upington - in van die modernste wynkelders. Hiervoor het hy ook internasionale toekennings verwerf.
Maar hierdie geleerde man het geen geduld gehad vir die moderne tegnologiese tydperk nie. Hy het nie ’n selfoon of ’n nuwerwetse rekenaar besit nie.
Die naaste wat hy hieraan gekom het, was sy sak-rekenaar waarmee hy uiters ingewikkelde berekeninge gemaak het vir sy wyntenks.
En dan was daar natuurlik ook die afstandbeheer van die televisie, maar hierdie kon hy net nooit baasraak nie.
Nee wat. As jy met Reynier wou praat, moes jy dit van aangesig tot aangesig doen.
Dus het hy geglo dat indien ’n tydperk aanbreek waar die wêreld verander, kan dit wel beteken dat tegnologie kan meegee.
Ons boorlinge van die moderne wêreld het so behep geraak met elektronika, het hy keer op keer gesê, dat ons lewens hierdeur verswelg is.
En indien die ‘e-wêreld’ eendag struikel, sal dit wel ’n kataklismiese gevolg hê vir die mensdom.
Dink net. Waar word ons geld gebêre? In ’n bank wat nou heeltemal staatmaak op elektronika en rekenaars. Ons kommunikasie stelsels maak hierop staat. So ook petrol-pompe en kasregisters.
Dus, verbeel jou net dat ’n gogga homself binne hierdie netwerk inwikkel en die hele gedoente eenvoudig net afskakel.
My kinders kan nie eens dink dat daar lewe voor die selfoontydperk was nie.
Enkele ure nadat Reynier 80 jaar oud geword het, het hy sy laaste asem uitgeblaas.
Maar steeds wens ek dat hy uitgehou het tot die beweerde “oordeelsdag” aanbreek. Dan sou ons onder in die tuin in sy swembad gesit het, elk met ’n glasie wyn in die hand en die hemelse prag van die sonsondergang aanskou het.
En daar sou beslis ’n vonkel in sy oog gewees het met die gedagte van die aarde wat moontlik tot stilstand gebring kan word deur ’n tegnologiese flater.
Soos die digter TS Eliot geskryf het, ‘This is the way the world ends, not with a bang, but a whimper’.