EK wil vra dat die Wellingtonse Verfraaiingskomitee asseblief net ontslae moet raak van die palmbome op die middeleiland van Hoof- en Kerkstraat. Met die wind wat so waai lyk die takke altyd verflenterd!
Baie dankie vir die fonteintjie wat so pragtig gemaak is met die vrolike blommetjies. Indien daar weer besluit word om plante in die middel te plant, moet dit gereeld natgehou en onderhou word.
Die plante op die wal by die nuwe “mall” lyk mooi, maar lyk ook alreeds verwaarloos en van die plante het gevrek.
Maak soos Franschhoek en merk straatname vanuit Hoof- en Kerkstraat duidelik – miskien met gietyster-pale met bordjies wat hang. Anders kan die verkeerseilandse liewer geplavei word en plante in potte geplaas word.
Wat nog afbreuk doen aan Wellington is die pragtige, ou geboue in Hoofstraat wat verskriklik verwaarloos word. Vra ’n argitek om betrokke te raak, kies byvoorbeeld drie neutrale kleure, kontak die eienaars van die winkels/geboue, en vra dat dit geverf word.
Die ou Victoriaanse huis wat as “nagskuiling” dien vir bergies moet opgeknap word.
Die geplaveide paadjie vanaf Newton se kant lyk baie mooi en netjies – kom ons doen dit in Wellington.
Wellington moet nou regkom!
Lynda Watson
Die voorsitter van die Wellington Verfraaiingsvereniging, Marita van Tonder, reageer:
Die middelmanne is besonder smal en geen ander tipe boom as ’n palmboom sal daar inpas nie, anders gaan motoriste se uitsig versper word. Die wortelstelsel is ook geskik vir dié area.
Daar is heelwat plante gesteel by die fontein by Blouvleiweg net ná die aanplantings soos trouens dikwels gebeur op ander plekke ook. Die natmaak van plante is ’n groot probleem. Daar is nie besproeiing by die fontein nie en die plante word deur die munisipale werkers met die hand natgemaak. Die munisipaliteit doen sy bes met die werkers tot hul beskikking.
Besproeiingstoerusting word ook gesteel of beskadig.
Die plante op die wal by die Welgeleë Plein-winkelsentrum is juis deur die hitte beskadig.
Potte en metaalbordjies sal waarskynlik gesteel word.
Wat die verwaarloosde ou geboue in Hoofstraat betref, gaan dit soos die meeste van ons probleme oor wetstoepassing deur die Munisipaliteit, hoewel daar streng voorskrifte geld oor veranderings, kleur ens in die erfenisgebied. Eienaars gee ook nie altyd hulle samewerking nie en laat rommelstrooiing toe. Die “nagskuiling” is ’n groot probleem, met burokrasie wat optrede vertraag (sien bl 5).
Ons sukkel al jare om ’n stappaadjie in die Perdeskoen te kry, maar kry geen hulp of reaksie van owerheidsweë nie.