’n HOLLANDSE kundige oor herwinning, Ton van den Oever, was die afgelope twee weke in die Paarl om kennis uit te ruil rakende afvalherwinning.
Van den Oever, van die organisasie Pum (Programma Uitzending Managers) wat in Holland deur die staat ondersteun word, het twee weke by Enviro-smart, die organisasie wat herwinning namens die Drakenstein Munisipaliteit hanteer, raad gegee.
Ton is gevra om as vrywilliger na die Paarl te kom om raad te gee oor maniere waarop die kliëntebasis uitgebrei kan word, deelname te verhoog, toekomstige markte te verken en te kyk hoe om die bestuur en produktiwiteit van die herwinningsaanleg te verbeter.
Met sy besoek was hy baie geïnteresseerd in hoe Enviro-smart tot stand gekom het onder leiding van Sonia Frans.
Voorheen het Sonia haar herwinningsbesigheid vanaf haar huis bedryf, en by familielede en vriende herwinbare afval gekollekteer. Met meer as tien jaar ondervinding in afvalbestuur, het sy later getender om die herwinningsaanleg van Drakenstein Munisipaliteit by die aflaaistasie in Distillerystraat, Paarl, te bestuur.
Sy het toe haar besigheid, Enviro Smart, verskuif, en 20 werkers in diens geneem.
Enviro Smart kollekteer nou een keer per week by inwoners van wyk 2 op Wellington herwinbare afval wanneer dit vullisverwyderingsdag is. Elke inwoner ontvang ’n deurskynende plastieksak wat gebruik word om nie-organiese afval in te verpak. Dit word bo-op of langs die vullisdrom gelaat.
“Wellington se projek vloei goed, maar dit kan nog beter gaan as die informele kollekteerders wat die sakke skeur en goedere uithaal en dan die res in die swart drom los, dié optrede sal staak.”
Inwoners kan ook self hulle goedere na die Wellingtonse stortingsterrein of die Paarlse oorlaaistasie neem vir herwinning.
By die stasie word die afval gesorteer deur middel van ’n vervoerband en aan die herwinningsbesighede verkoop. Inwoners kan op weeksdae van 08:00 tot 17:00 self hul vullis daar aflaai, sonder dat hulle dit hoef te sorteer. Plastiekware moet uitgespoel word.
Sonia sê met hierdie herwinningsprojek word daar gepoog om die vullisterreine langer te laat hou. Kontak haar by 072-306-3880 vir navrae.