Eiendomme verval weens baas in die tronk
2011-04-21
Lise Beyers
’n HISTORIESE, Victoriaanse woning in Wellington se Hoofstraat is besig om uitmekaar te val, nadat die eienaar soos ’n groot speld verdwyn het. ’n Switser, Ernst Harbich, het jare gelede in eiendom in dié gebied belê, deurdat hy hierdie woning in Hoofstraat 77 gekoop het, asook die saai- en wynplaas, Ou Ruigtevlei, buite die dorp. Maar nou is beide hierdie eiendomme byna onherstelbaar verwaarloos. Die eens statige Victoriaanse woning met houtvloere en -deure, Victoriaanse ystervuurherde en gedrukte plafonne, is vandag net ’n geraamte van die weelde van Victoriaanse argitektuur wat dit eens was. By die Hoofstraat-woning woon daar nou tot 50 mense in die ses vertrekke. Van die houtafwerkings is afgebreek om vuur te maak en die agterplaas het ontaard in ’n berg van rommel. ’n Ou skuur buite word ook gebruik as blyplek vir haweloses. En weens agterstallige munisipale rekeninge, is beide die water- en elektrisiteitstoevoer afgesny. Dus, sê eienaars van besighede in die omliggende gebied, het hierdie woning in ’n onhigiëniese nes ontaard. Ook die polisie sit met hul hande vol, met talle inwoners van Hoofstraat 77 wat hul skuldig maak aan onwettige bedrywighede. Wellington polisiewoordvoerder, a/o Celeste Barkhuizen, het bevestig dat daar hiér onwettig gehandel word met dwelms soos dagga en Tik, asook drank. “Ons het al verskeie briewe aan die Munisipaliteit gerig om ons te help om die woning toe te maak, maar ons versoeke val op dowe ore.” Die Verfraaiing- en Erfeniskomitee van Wellington voer ook al jare lank ’n stryd oor hierdie huis. “Dis een van die mooi ou huise in Wellington en in die middel van die sakekern en is ontsettend vervalle. Mense woon nou daar onder haglike omstandighede, dis ’n dwelm- en Tiknes,” sê Marita van Tonder. Volgens ’n munisipale amptenaar word daar tans ’n proses gevolg om tot ’n oplossing te kom vir hierdie probleem. ’n Verslag word saamgestel oor die toestand van dié woning wat dan aan die Raad voorgelê sal word. Hierna sal besluit word of ’n aansoek gerig sal word aan die Kaapse Hooggeregshof om die eiendom op te veil. En by Harbich se ander eiendom gaan dit net so erg, indien nie erger nie. Op Ou Ruigtevlei-plaas op die Hermon-pad, woon bykans 60 mense, ook sonder krag en water. Albertus Buckle, van wie Harbich die plaas in 1990 gekoop het, het gesê dit is skandalig dat buitelanders toegelaat word om eiendom wat hulle hiér koop, so af te skeep. “Harbich het gesê dat hy self boer in Oostenryk en wou op Ou Ruigtevlei boer. “Nou is daar byna niks meer van hierdie plaas oor nie. “Alle metaal is gesteel om as skroot te verkoop, selfs die windpompe, wat al manier was om water te verskaf. “Die opstal is gestroop en val inmekaar. Die bewoners van die plaas sê dat hulle destyds daar werksaam was, maar dit is onwaar. Meer en meer mense trek onwettig soontoe. “Die landbougemeenskap moet druk op die owerhede plaas om te voorsien dat landbougrond sinvol benut word. Indien eiendomme so verwaarloos word, moet hulle onteien word sodat hulle doelgerig aangewend kan word.” Harbich het glo ook eiendomme in Stellenbosch en Malmesbury wat net so verwaarloos is. Volgens ’n werknemer van die Departement van Binnelandse Sake word Harbich beskryf as ’n ‘ongewenste persoon’ in Suid-Afrika, na bewering weens belastingontduiking en geld-wassery. Dus sal hy glo nie maklik weer homself binne die grense van die land bevind nie. Daar word onder inwoners van Wellington beweer dat Harbich tans in die buiteland in die tronk is, maar dié gerugte kon nie bevestig word nie. * Properties of an Austrian ‘farmer’ in Wellington, are going to rack and ruin due to neglect.
More
News
|