Chaos oor wagte se optrede op plaas
2011-04-21
Lise Beyers
’n ‘OORLOG’ het verlede week op ’n plaas ontstaan nadat sekuriteitswagte aangestel is om kriminele aktiwiteite op ’n plaas buite die Paarl te stuit. Skaars drie uur nadat hierdie wagte hul opwagting op die plaas gemaak het, is ’n bejaarde man nege keer met verf-koeëls geskiet. Volgens die plaasbestuurder van Fraaigelegen, Bruce McCreedy, was dit die laaste uitweg om sekuriteitswagte aan te stel om dié plaas te beskerm teen aanhoudende oortreders, vandalisme en diefstal. Kort nadat die wagte Vrydagmiddag vir diens aangemeld het, het alle hel losgebars toe hulle ’n oortreder versoek het om die toneel te verlaat. “Ek was binne my kantoor toe ek na die toneel ontbied is. “Met my aankoms was ’n skare mense besig om aggressief op te tree teenoor die sekuriteitswagte.” McCreedy het gesê dat hulle een van die onwettige inwoners van die arbeidershuise gevra het om nie die plaas as deurgang te gebruik nie. “Kort voor lank is ons met klippe bestook. Die wagte het toé noodgedwonge op die skare losgebrand met verfbal-gewere.” Piet van Rooyen (68) is nege keer deur koeëls vanuit hierdie gewere getref. “Klippe is ook op my woning gegooi en vensters is gebreek,” sê McCreedy. Verder vertel hy dat die besluit om sekuriteitswagte aan te stel, geneem is nadat meer as ’n miljoen rand se skade aan die plaas deur oortreders aangerig is oor die afgelope ses maande. “Die meerderheid mense wat in ons werkershuise woon, is onwettig daar. Die plaas word gebruik as deurloop na buurplase en oortreders strooi rommel oral in ons landerye. “Enige stuk metaal, soos waterpype, heinings, hekke, besproeiingstelsels en self dakplate word gesteel. “Ons het vanjaar alleen 16 hektaar wingerd in volle drag verloor, toe ’n oortreder ’n vuur gemaak het. “Hiér word ’n onwettige sjebeen bedryf en ons vermoed dat hierdie ook ’n deurgang is vir diewe wat by Boschenmeer steel.” Maar Van Rooyen het gesê dat hy slegs tussenbeide getree het, toe hy sy kleinseun, Aldino Sass, en dogter, Angelique Stevens, probeer beskerm het teen die wagte. “Ek het hulle gevra wat gaan aan en hulle kon nie vir my ’n duidelike antwoord gee nie. Hulle het net gesê dat hulle van die ‘taakmag’ is en dat hulle wag vir die plaasbestuurder. “Ek het toé skielik gevoel hoe brand my hele lyf.” Sy vrou, Maria, het intussen die polisie geskakel. Die sekuriteitswagte is deur die polisie in hegtenis geneem, en alhoewel klagtes van aanranding en saakbeskadiging teen van die inwoners gemaak is, is niemand anders tot dusver in hegtenis geneem nie. Sekuriteitsbeamptes Brian Nelson en Francois Scholtz het die naweek agter tralies beland in verband met die voorval. Intussen het ’n lid van die polisie beaam dat talle inwoners van hierdie arbeidershuise al vantevore met die gereg gebots het en dat onwettige drank en dwelms al op die perseel gevind is. * An elderly man was shot nine times by members of a private ‘task force’ when pandemonium broke out on a local farm.
More
News
|