Rugby telbord
2011-04-21
*VILLAGERS KRY PAK ’n Begeesterde Tygerberg-rugbyspan het die besoekers van Pniel Villagers Saterdag ’n rugbyles geleer en hulle in alle fasette van die spel oorheers om sodoende gemaklik met 60-13 te wen. Daar was nie net probleme met hulle skrumwerk nie, maar in die lynstane is hulle ook ore aangesit en hulle kon vir die hele wedstryd slegs een skoon bal op hulle eie ingooi wen. Die Pniel-manne het in die eerste helfte met ’n sterk wind in hulle blaaie die tuisspan in hulle eie kwartgebied vasgepen, maar kon behalwe twee strafskoppe geen verdere punte aanteken nie. Tien minute voor rustyd het die tuisspan drie vinnige drieë aangeteken wat die rustyd telling op 17-6 te staan gebring het. Na die omdraaislag het die besoekers uitmekaar geval en swak keerwerk tesame met onoordeelkundige besluitneming het die tuisspan in staat gestel om ’n verdere 43 punte aan te teken. Puntemakers was Fernando Adams (drie) en Stefanus Cedras (twee strafskoppe en ’n doelskop). *BLUE STARS VERDOF *Blue Stars United van Klapmuts het Saterdag hul rieme styfgeloop teen All Saints van Somerset-Wes. Die eerste span verloor met 15-6, die tweedes speel gelykop 5-5 en die derdes verloor 22-0. *VIOLETS VERRAS *Violets het Saterdag verras deur ’n gedugte span van Riverstones op Daljosafat met 13-10 te klop. Die wedstryd is veral voorlangs beslis met Cedric Williams aan die voorpunt vir Violets wat die bal ente vorentoe geneem het. Hy was ook goed bygestaan deur Egan Minnaar en Wayne Davids. Agterlangs was dinge net so gelykop veral as dit by verdediging gekom het. Hier het Bradwill Swartz sy troepe behoorlik gelei met duikslag na duikslag op die manne van Riverstones. Greg Olyn het net so goed gevaar, met Samonique Adonis wat elke keer goeie bewegings van stapel gestuur het. Vir Violets druk skrumskakel Jeremy Klaasen die enigste drie met B Swartz wat slaag met die doelskop en ’n strafdoel. Vir Riverstones het Francios Johannes en Elvano Fortuin drieë gedruk. Riverstones se tweede en derde span- ne het onderskeidelik met 5-0 en 12-10 gewen. *SIMONDIUM VAL VAS *Simondium se eerste rugbyspan het Saterdag in ’n spannende wedstryd in die laaste minuut verloor. Windmeul het in die doodsnikke van die wedstryd ’n strafdoel deur die pale gejaag wat die telling op 22-21 in hul guns beklink het. Vir Simondium het Julian Malegani twee drieë gedruk terwyl James Kose, agsteman van Simondium, op die aanval en verdediging uitgeblink het. Die tweede- en derde spanne verloor onderskeidelik met 7-26 en 15-17. * LOWER PAARL WEN *Lower Paarl (Blues) het Saterdag vir Gardens met 22-10 gewen. Abie Diedericks, wat as speler van die wedstryd aangewys is, het drie drieë gedruk. Randall Hefca het ook gaan druk en een drie is verdoel deur Dalwain Cornelissen. Alhoewel die Blues gewen het, is hulle spel gekenmerk deur ongedwonge foute. Die Blues se tweede en derde spannne wen onderskeidelik met 17-0 en 7-5. * VINEYARDS WEN *Die eerste span van Vine-yards is steeds besig om die wenne in te ryg. Hulle het Saterdag vir Allandale met 27-3 gewen.
More
News
|