Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vermaakbedryf maak gereed, hier kom Minette

Vermaakbedryf maak gereed, hier kom Minette
 
2011-04-21

Liezl Davids

MINETTE LIVINGSTONE-LOUW is van plan om groot naam te maak vir haarself.

Dié groenoog-meisie van Klapmuts is een van twee plaaslike leerders wat verskeie werkkontrakte in die vermaakbedryf oorsee losgeslaan het.

Minette was gekies om vroeër vanjaar haar talente ten toon te stel by die AMTC Shine Event in Orlando Florida waar 18 agente van verskillende maatskappy in haar verskeie talente belang gestel het.

Sy het ook ’n beurs van $45 000 losgeslaan by die New York Filmakademie waar sy vir twee jaar gaan studeer met die opsie om drie jaar te doen en sodoende haar graad in ‘Fine Arts’ te verwerf.

Verskeie agentskappe, insluitend modelagentskappe, het reeds hul belangstelling uitgespreek.

Minette was ’n leerder aan Hoërskool Gimnasium, maar ontvang tans tuisskool om haar matriekjaar te voltooi.

“Dit is my jarelange droom wat waar word en ek is baie opgewonde.”

Die 17-jarige kan nie net goed sing nie, maar is ook ’n uitmuntende viool- en klavierspeler. Die avontuurlustige tiener geniet dit ook om perd te ry, fiets te ry, en te swem.

Sy het reeds al aan verskeie musiekblyspele deelgeneem en het pryse by die eistedfodd gewen vir haar vioolspel.

Minette, tesame met haar ouers, André en Michelle Livingstone-Louw, vertrek in Mei-maand Dallas toe waar hulle sal tuisgaan om hul dogter te ondersteun met al die nuwe uitdagings wat wag.

Tot dan moet Minette elke dag navorsing doen oor die verskillende bedrywe waarin sy gaan werk. Een daarvan is modelwerk en dus moet sy weet wat die agentskappe se style is en haar posserings oefen.

Sy neem ook weekliks sangklasse en skerp ook haar toneelspel op.

Volgens Minette is haar ma haar rolmodel: “Maak nie saak hoe ’n slegte dag sy gehad het nie, sy is altyd vriendelik.”

Minette wil graag self ’n rolmodel vir kinders wees, iemand na wie hulle kan opkyk.

Vir dié talentvolle meisie wag daar nog vele nuwe ervarings in die vermaakbedryf, maar so ’n groot oomblik kan sy nie laat verbygaan nie.

Wie weet, dalk is sy binnekort die nuwe gesig in tienermeisies se kamers regoor die wêreld?




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za