Crèche kry nuwe lewe danksy La Rochellers
2011-04-21
Lise Beyers
DIE Mej La Rochelle finaliste het nie net mooi gesigte nie, maar hul harte lê beslis op die regte plek. Dit was duidelik toe hulle verlede week ’n nuut-opgeknapte crèche op Vryguns-plaas in die Paardeberg geopen het. Die twintig finaliste het vroeër vanjaar tydens ’n werksessie besluit dat hulle ’n gemeenskapsprojek wil aanpak om minderbevoorregtes te help. Veral kinders lê na aan hul harte. So het hulle by die ACVV aangeklop om te hoor waar hulle kan help. Daar is aan hulle vertel dat in die Paardeberg is daar ’n crèche wat die jong kinders van werkende ma’s versorg. Hierdie crèche het deur die jare weens onvoldoende fondse erg agteruitgegaan. Die La Rochellers het gaan kyk na die crèche en het afgekom op ’n ou vervalle werkershuisie waar agt kinders tussen die ouderdomme van vier maande tot vier jaar daagliks tuisgaan. “Daar was baie min speelgoed vir hulle en die gebou was donker en baie vuil,” vertel een van die finaliste, Leentjie Visser. “Ons het gou werk gemaak daarvan om skenkings in te samel om ’n mooi speel-skooltjie vir die kleintjies op te rig.” En tydens die afgelope skoolvakansie het die meisies van La Rochelle hul moue op- gerol en die skooltjie van kop tot toon skoongemaak, geverf en versier. Vloere is geteël en speelgoed, boeke en skryfbehoeftes is aangekoop. Vandag is die prentjie op Vryguns-plaas heeltemal anders en die kleuters het nou breë glimlagte op hul gesiggies. Oppassers Lydia Hermanus en Janica Owies vee trane van blydskap van hul oë wanneer hulle na hul skooltjie kyk. “Ons is so baie dankbaar vir wat die meisies vir ons kinders gedoen het. Sedert die opknapping kan ons ’n verandering in die kinders sien en hulle is nou baie gelukkig.” * Miss La Rochelle finalists have revamped a dilapidated crèche on a farm in the Paardeberg area.
More
News
|