DIE Munisipaliteit se reaksie op my brief (Paarl Post 17 Maart) laat my wonder of hulle al ooit gaan wandel het in ons arboretum?
Om hierdie unieke boompark, enig in sy soort in Afrika, te vergelyk met ’n speelparkie met swaaie is absurd.
Mense uit alle gemeenskappe van ons dorp ontspan hier en die genieting wat uit die opvoedkundige waarde van die park geput word, moet nie geringgeskat word nie.
Die parkbestuur kan gerus gaan kyk hoe die nuwe biodiversiteitspark naas die sokkerstadion in Groenpunt bestuur word, om te sien wat die potensiaal van ons boomtuin is, ook om ’n trekpleister vir toeriste te word. Enige naamborde, toilette, gazebo’s en ander verbeteringe is in die verlede en sal ook vorentoe summier deur vandale beskadig en gesteel word in die afwesigheid van behoorlike sekuriteit - dis dus ’n vermorsing van fondse.
Voorts is dit nie net kommerwekkend dat daar nou reeds twee aanvalle hierdie jaar in die arboretum plaasgevind het nie, maar ook die trae houding van die Munisipaliteit om die situasie aan te spreek.
Ons kry teenstellende boodskappe: aan die een kant is daar genoeg fondse om skuldenaars werksaam by die Munisipaliteit 50% afslag op agterstallige gelde te gee; aan die ander kant kan die salaris van enkele patrolliebeamptes nie bekostig word nie.
Werknemers van die Munisipaliteit is juis diegene wie se agterstallige gelde baie maklik per debietorder van hul salarisse verhaal kan word.
Hierdie toedrag van sake spel baie duidelik uit waar ons dorpsbestuur se prioriteite lê.
Betalende kiesers sal beslis kennis hiervan moet neem wanneer hulle in die komende munisipale verkiesing op 18 Mei gaan stem.
Debbie de Beer