Dief op heterdaad betrap deur buurman
2011-04-28
Lise Beyers
GOEIE buurmanskap kan ’n verskil maak.
Dit was Dinsdag duidelik, toe ’n buurman eiehandig ’n vermeende dief vasgetrek het in Du Plessisstraat, Paarl. Die voorval het omstreeks 10:00 plaasgevind, toe Jean le Roux toevallig deur sy venster gekyk het en ’n verdagte man in die straat sien ronddwaal het. “Die volgende oomblik het hy binne my buurvrou oorkant se hek ingeloop en om die huis na die agterkant van die woning verdwyn,” het Le Roux gesê. “Omdat ons die afgelope tyd so baie inbrake hiér gehad het, het ek dadelik die man agterna gesit.” Toe Le Roux by sy woning uithardloop, sien hy die verdagte reeds in die straat staan met ’n kis leë bottels. “Hy het die kis neergesit en begin hardloop. Ek het in my motor geklim en hom agternagesit.” Die verdagte het by die hek wat die Manyano-sentrum en Du Plessisstraat skei, gehardloop in die rigting van Sanddriftstraat. Maar Le Roux het hom vinnig aangekeer naby die Metro-dienste. Die polisie is geskakel en die verdagte is in hegtenis geneem. Maar bure is steeds woedend oor die hek vanaf die Manyano- sentrum wat permanent oop staan. “Dit is ’n maklike ontsnaproete vir misdadigers en ons het al ’n petisie opgestel dat hierdie hek gesluit moet bly. Die hek is vandag weer oopgelos deur ’n inwoner van die sentrum wat in die middedorp werk.”
More
News
|