Hofsaak hang oor kandidaat se kop
2011-04-28
OUDRAADSLID Dan Kotze staan vir die munisipale verkiesing op 18 Mei, ten spyte daarvan dat hy onlangs skuldig bevind is op twee aanklagte van ernstige aanranding. Kotze sal egter eers ná die verkiesing, in Augustus, gevonnis word. Hy is tans die leier van die SA Progressive Civics Party (Sapco). Saam met hom staan ander voormalige politici soos Cupido Rogers, Van der Berg Pienaar, en Titus Hendricks ook as kandidate vir Sapco. Kotze, voorheen ANC-raadslid, is reeds in Oktober verlede jaar skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Kotze het Trevor Ernstzen en sy vrou Joan, eienaars van die plaas Le Fût in Klein Drakenstein in 2007 aangeval tydens ’n onderonsie oor die wettige uitsetting van ’n plaaswerker en Trevor is ernstig beseer. Landdros André Fourie het ná die skuldigbevinding die saak verwys na die streekhof vir vonnis, weens die ernstige aard van die oortreding. Streeklanddros Dudley Nel het die saak nou uitgestel tot 3 Augustus vir vonnis. Nog ’n voormalige ANC-raadslid, Gordon Pheiffer, staan nou vir die ACDP in Franschhoek. Pheiffer was twee jaar gelede aangekla van diefstal en bedrog, maar die aanklagte is in die Paarlse Streekhof van die rol geskrap. Die aanklagte het gespruit uit die beweerde diefstal van R21 000 op 12 Oktober 2006, nadat dié geld, wat vir instandhouding van die gemeenskapsaal in Groendal bedoel was, na bewering in Pheiffer se sak beland het. Die verfwerk het glo R10 000 gekos, maar die kwotasie waarvoor betaal is, was vir R31 000, en Pheiffer is daarvan beskuldig dat hy glo aan die verwer gesê het om die verskil aan hom te betaal. * A candidate for the municipal election, Dan Kotze, has been found guilty of aggravated assault and will be sentenced in August.
More
News
|