Besoedeling gevrees ná vragmotor rol
2011-04-28
Lise Beyers
BOERE van Klein Drakenstein is erg ontstoke nadat ’n vragmotor veroorsaak het dat ’n bergspruit besoedel is. Dit kom nadat ’n vragmotor wat verf-chemikalieë vervoer het, Dinsdagaand by Dutoitskloof afgestort het. Die voorval het omstreeks 18:30 plaasgevind toe die bestuurder van die vragmotor wat in die rigting van die Paarl gery het, beheer oor sy voertuig verloor het, op ’n skerp draai. Die vragmotor het sowat 20 meter ver van die pad afgetuimel en onderstebo in die Miaspoortspruit buite die Paarl beland. Die bestuurder van die vragmotor het verskeie beenbreuke opgedoen, maar sy drie passasiers het ongeskonde uit die wrak geklim. Die vragmotor was gelaai met chemikalieë wat in die verfindustrie gebruik word om verf te bind. Weens die voorval het verskeie van die chemikalie-houers begin lek en het die vloeistof tot binne in die spruit gevloei. En alhoewel boere deur die eienaar van die vragmotor en deur ’n chemikalie-opruimingsmaatskappy gesê is dat die chemikalieë nie gevaarlik is nie, was hulle steeds baie bekommerd oor die stand van sake. Donderdagoggend was hulle geskok, toe die Miaspoortspruit se water geheel en al wit verkleur het. Een boer en perdeteler, George Kahan van Keerweerder-plaas, het gesê dat hy persoonlik nie kan glo dat die chemikalieë nie ’n negatiewe uitwerking op die direkte omgewing van die spruit kan hê nie. “Daar is geen manier dat ek my perde van hierdie water kan laat drink nie en ons moes nou alternatiewe water hiervoor gebruik. “Die spruit lyk nou asof melk daarin vloei. Niemand kan sê of dit in die langtermyn skade gaan aanrig nie.” Sy buurman, Jos Malherbe, het gesê dat hulle baie verlig is dat hulle tans nie hul landerye moet besproei nie. “Al sê hulle dat die stowwe wat in die stroom uitgelek het nie gevaarlik is nie, het dit wel vir ons boere baie ongerief veroorsaak. “Ons kan nie hierdie water tans benut nie en moet nou ander bronne benut.” Maar volgens Mickey Smith van Spiltech, ’n maatskappy wat chemikaliese opruimingswerk doen, is die betrokke stowwe nie gevaarlik nie. Die betrokke stowwe is Emultex, Revacril en ’n bindstof. “Die water sal verkleur, maar selfs al drink jy ’n glas hiervan, is dit nie gevaarlik nie. Die reëns het ook gehelp om dit nog verder te verdun en spoedig weg te spoel. “Watermonsters is wel geneem waarop toetse gedoen sal word om die veiligheid van die water te bevestig. “Deskundiges is Dinsdag ook na die toneel gebring om die situasie aan boere te verduidelik.” Boere in die gebied het ook hul kommer uitgespreek oor die feit dat Dutoitskloofpas steeds gebruik word deur swaar voertuie. “Daar gebeur talle ongelukke op die pas. Dalk mag dié chemikalieë wat tydens die nuutste ongeluk gestort is nie so gevaarlik wees nie, maar wat as ’n vragmotor oormôre hier ’n ongeluk maak met ’n vrag uiters gevaarlike stowwe aan boord? “Hoe gaan dit nie dan ons waterbronne beïnvloed nie?” * A chemical spill on Du Toit’s Kloof has had farmers hot under the collar about its possible long term effect.
More
News
|