Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Huis brand ná moord

Huis brand ná moord
 
2011-04-28

Lise Beyers

GENOEG is genoeg!

Dit was die duidelike boodskap wat Dinsdag deur inwoners van Lanquedoc in Groot Drakenstein uitgestuur is, nadat hulle die huis van ’n vermeende moordenaar en dwelmsmous afgebrand het.

Die lont in die kruitvat het Saterdag ontbrand, toe ’n polisiebeampte wat woonagtig is in dié gebied, ondersoek ingestel het nadat hy inligting ontvang het oor ’n moord.

Groot Drakenstein se polisiewoordvoerder, kst Rionel Uithaler, het gesê dat die beampte deur ’n inwoner van Lanquedoc ingelig is dat hy vroeg dié oggend ’n man gesien het wat ’n kruiwa gestoot het waarin die liggaam van ’n vrou was.

Die polisieman het ondersoek ingestel en op die bebloede, halfnaakte liggaam van Nothemba Giladile (28) in ’n beboste gebied afgekom. Sy is erg aangerand en het gesterf weens ’n harde hou teen die kop.

Versterkings is ingeroep en die huis waar die vrou gewoon het, is deursoek. Hier het die polisie op bloedbesmeerde mure afgekom.

Twee mans Simphiwe (Blom) Ntlomelwana (34) en sy broer Fanwen Songwevu (41) is in hegtenis geneem in verband met die moord. Ntlomelwana was die saamwoon-vriend van Giladile en hulle het saam twee jong kinders gehad.

Toe die nuus van Giladile se dood soos ’n veldbrand deur die gemeenskap versprei het, het inwoners om Ntlomelwana se woning in Akkerlaan saamgedrom, in opstand teen hierdie man. Die gemoedere het behoorlik hoog geloop.

Die gemeenskap beweer dat Ntlomelwana dwelms aan hul kinders verskaf en wou hom al lankal verwyder uit hul gemeenskap.

Die polisie moes intree om die situasie te ontlont toe daar gedreig is om die huis af te brand.

Maar Dinsdagoggend het lede van die gemeenskap op die Paarl Landdroshof toegesak met die twee moordverdagtes se hofverskyning. Hulle het by wyse van die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, Eldred Kleinschmidt, ’n petisie aan die hof oorhandig om borg aan Ntlomelwana teen te staan.

Volgens Kleinschmidt het Ntlomelwana arrogant en uittartend in die beskuldigdebank opgetree. Die saak is uitgestel tot 3 Mei.

Maar kort ná Ntlomelwana se hofverskyning was sy huis in ligte laaie.

“Ons het skaars teruggekom in Lanquedoc, toe sien ek rook vanuit Ntlomelwana se woning borrel,” het Kleinschmidt gesê.

Niemand is tot dusver in verband met die brand in hegtenis geneem nie.

“Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap en kerkleiers om vrede te bewaar en om nie die wet in eie hande te neem nie,” het Uithaler gesê.

Enigiemand wat die polisie met hul ondersoek kan help, word gevra om a/o Cornelius Francke te kontak by 021-874-8000.

* The home of a suspected murderer and drug dealer was set alight by angry residents of Lanquedoc on Tuesday.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za