Moedersdag: Wat jy nie geweet het nie
2011-05-05
Elana van der Watt
SLEGS drie maande van die jaar gaan verby waarin daar nie êrens in die wêreld ’n Moedersdag gevier word nie - Januarie, Julie en September. Verreweg die meeste lande vier dit, soos Suid-Afrika, op die tweede Sondag van Mei. Noorweë vier die eerste Moedersdag van die jaar op die tweede Sondag van Februarie en Indonesië die laaste een van die jaar op 22 Desember. • Daar word geglo dat Moedersdag soos dit in Suid-Afrika gevier word, soos in die meeste lande wat so ’n dag gedenk, uit Amerika oorgespoel het. Anna Jarvis het dié dag in 1908 begin en bemark op grond van haar ma se droom vir ’n dag waarop moeders deur hul kinders vereer sal word. President Woodrow Wilson het dit uiteindelik in 1914 tot ’n nasionale vakansiedag verklaar. • In Brittanje het Moedersdag glo sy wortels in “Mothering Sunday”. Dit was ’n 16de eeuse Christenpraktyk waarvolgens diensknegte, wat weg van die huis in ander huishoudings gewerk het, die laaste Sondag van die Vastyd af gekry het om hul moederkerk te besoek en ook met hul moeders herenig te word. • Moedersdag is in die meeste lande ’n jong tradisie soos dié in Amerika. In baie ander lande skakel dit in by ander gebeurlikhede, soos godsdienstige of historiese herdenkings. Sommige lande het hul eie feesdae gehad om moeders te vereer en enkele kenmerke van die Amerikaanse Moedersdag oorgeneem, soos om angeliere en ander geskenke aan hul eie ma te gee. • Die viering van Moedersdag in Egipte is te danke aan ’n joernalis, Mustafa Amin, wat die dag bevorder het nadat hy die storie gehoor het van ’n weduwee wat haar lewe opgeoffer het om haar seun groot te maak, waarna dié ’n dokter geword, getrou en haar verlaat het sonder om enige dank te betuig. • In Thailand is Moedersdag in die 1980’s op Koningin Sirikit se verjaarsdag (12 Augustus) ingestel, en Vadersdag op die koning se verjaarsdag. Dit was deel van Thailand se eerste minister, Prem Tinsulanonda, se poging om die koninklike familie te bemark (inligting: www.wikipedia.org).
More
News
|