EK sien dat Drakenstein Munisipaliteit twee volle bladsye promosie in Paarl Post adverteer oor die begrotingsplanne met my en u belastinggeld.
En oral oor die ander bladsye skreeu dit van onaanvaarbare situasies: misdaad in die Arboretum en die arrogante miskenning van die klaer deur munisipale beamptes (brief D de Beer), die toestand van ons riviere (brief D Smit), negering van Paarl Toerisme en toeriste (Brief R Graves), ensovoorts.
Week na week is dit dieselfde - klagtes uit alle gebiede en van alle gemeenskappe.
Tog luister ek onlangs na die burgemeester se verslag oor die ANC-beheerde Raad se prestasie gedurende hul termyn en dit klink te wonderlik: huise wat gebou is, infrastruktuur, opheffing en vele meer.
Ek kan nie glo wat ek hoor nie, want die laaste tyd het ek deur die hele Drakenstein beweeg om bestekopname te doen van die stand van ons omgewing.
Ek was verslae en geskok. In die agtergeblewe gebiede is “nuwe” huise waaroor so gespog word, skokkend swak gebou met water wat oral instroom, geen speelplek vir kinders, “parke” wat soos woestyn lyk, “sportgronde” wat stortingsterreine is, rommelhope, riool wat uitloop uit ablusieblokke. Wat gaan in die komende winter gebeur?
En oral hoor ons van stygende belastings en leë beloftes. Wat doen Drakenstein met sy jaarlikse inkomste van meer as R1,2 miljard?
Drakenstein verval. Moet ons net stilbly en tevrede wees? Verdien ons mense dan nie respek en menswaardigheid nie? Of is ons net betalers van belastinggeld vir luukses vir die ampsdraers?
Gesie van Deventer
DA Burgemeesterskandidaat, Drakenstein