DIE Kaya Thembi huisvestingsprojek by die Athlone House of Strength (Ahos) in die Paarl is volstoom aan die gang.
Ahos, wat ’n veilige hawe vir mishandelde vroue en hul kinders bied, bied nou ook aan vroue wat by die sentrum gehuisves word die geleentheid om onafhanklik te raak en op hul eie reg te kom.
Vroue wat ’n vaste werk het, kan dan tydelik ’n eenheid huur totdat hulle gereed is om op hul eie voete te staan. Daarna sal die huis weer beskikbaar raak om ’n ander vrou in nood te help.
Vroue wat kwalifiseer, sal deur ’n keuringsproses gaan.
Volgens Merle Snyders, bestuurder van Ahos, kan of wil vroue baie keer nie teruggaan na hul mishandelde lewe nie, maar het hulle ook nêrens anders om te gaan nie.
Ahos wil dus vir mishandelde vroue ’n nuwe begin bied. Tans is daar twee huise op die perseel wat voltooi is, maar daar word beoog om nog twee te bou.
Volgens Enith Martin, voorsitter van Ahos, was dit haar oorlede man John Martin se wens om die Kaya Thembi huise te bou en wil hulle graag ’n sukses daarvan maak.
Onlangs is R20 000 deur Gert en Tiny van de Nadort van Holland geskenk. Dié geld sal gebruik word om meubels vir die huise te koop.
Nóg ’n skenking van R120 767 is ook gemaak aan Ahos deur wyle Klaus D Becker van Milnerton, waarvan Martin Snedden die eksekuteur was en Fred van Wyk die prokureur wat die skenking aan Ahos oorhandig het.
Arjen Onderwater van Holland het op sy beurt R26 500 aan die voorskool van Ahos geskenk.
Enigeen wat ’n bydrae wil maak ten opsigte van die woonstelle of Ahos self kan hul skakel by 021-862-9983 of ahos@softweb.co.za.
Ahos wil ook graag ’n versoek rig aan enigeen wat belang stel om hul talente te deel met die vroue wat by hulle tuisgaan, om hulle te kontak.
“Ons wil graag die vroue bemagtig met verskeie vaardighede. Al is dit net vir ’n uur elke week wat iemand bereid is om hul talente of vaardighede met die vroue te deel, sal dit so baie waardeer word.”
Leerders wat graag in hul verskeie studierigtings ervaring wil opdoen kan daarby baat en sodoende ook iets terugploeg in die gemeenskap.