Man erg aangerand tydens 'padwoede'
2011-05-05
Lise Beyers
’n UITSTAPPIE ter viering van ’n huweliksherdenking het in ’n nagmerrie ontaard vir ’n plaaslike egpaar - soveel so dat ’n Paarliet twee weke met ernstige beserings in die hospitaal moes deurbring. Louis en Alta Nel van Mollstraat in Noorder-Paarl was onlangs onderweg na Somerset Mall om 24 jaar van getroude lewe te vier. Maar dinge het lelik skeefgeloop toe hulle in Stellenbosch gery het. Hulle vertel dat hulle in hul motor in Adam Tas-rylaan (die R44) by ’n rooi verkeerslig stilgehou het by die aansluiting met Merrimanlaan. Hier is dit ’n dubbelbaan-pad. “Ek het in my truspieëltjie gekyk en gesien hoe ’n vragmotor op ons afpyl,” vertel Alta, wat die motor bestuur het. “Ek het so ver moontlik probeer afdraai en die vragmotor is tussen ons en nog ’n voertuig verby en deur die rooi verkeerslig.” Die Nels was geskok deur die onverskilligheid van die vragmotorbestuurder, maar wat hulle nie besef het nie, is dat dinge net al hoe erger sou raak. Hulle het aangery in die rigting van Somerset-Wes, en kon in die verte sien hoe die vragmotor teen ’n hoë spoed deur die verkeer weef. Buitekant Stellenbosch het hulle weer langs die vragmotor te lande gekom by ’n rooi verkeerslig. Hierdie keer het hy wél stilgehou. Teen hierdie tyd was Louis, ’n afgetrede polisieman en voorheen opleier by Paarl Polisiekollege, baie ontsteld oor die vragmotorbestuurder se optrede. “Ek het gevoel dat dit my wetlike plig is om die man te waarsku dat hy mense se lewens in gevaar stel deur sy roekelose bestuur.” So het hy uit die motor geklim en met die man gaan praat. Maar die vragmotobestuurder was glo nie ingenome hiermee nie en hy het op Louis gevloek. “Ek wou nie baklei nie en het my rug op hom gedraai en terug motor toe geloop. “Maar vier tree vorentoe hoor ek iets agter my. Voordat ek kon omdraai, word ek met iets baie hard teen die nek geslaan.” Louis is weer van agter getref en het op sy knieë beland. Toe hy omdraai na sy aanvaller, is hy trompop verskeie keer in die gesig geslaan. Sy geskokte vrou wou nog help, maar die vragmotorbestuurder het in sy voertuig geklim en weggejaag. Teen hierdie tyd het die bloed uit Louis se gesig gestroom. Elna het gesê dat verskeie motoriste wat die voorval aanskou het, vir hulle gehelp en ’n ambulans en die polisie ontbied het. Die vragmotor is glo kort hierna in Somerset-Wes aangekeer, maar eers nadat dit in ’n ongeluk betrokke was met ’n motor naby die Lord Charles Hotel. Louis is in die noodeenheid van Stellenbosch MediClinic opgeneem en kort hierna is ’n noodoperasie op hom uitgevoer. Sy voorkop en neus is deur die geweld oopgekloof en talle beentjies is in sy gesig gebreek. Staalplate is in sy voorkop en neus ingeplant om hulle te heg en die gebreekte beentjies is met krammetjies geheg. Louis het nóg twee operasies ondergaan en daar sal in die toekoms waarskynlik weer aan sy gesig geopereer moet word. “Drie weke na die voorval verkeer ek steeds in baie pyn. Ek het geen gevoel in my voorkop en aan die linkerkant van my gesig nie. Ek kan ook niks ruik nie. “Die aanval het my visie ook belemmer.” Msimelelo Bongoza (33) is in hegtenis in verband met die voorval en aangekla van aanranding en roekelose bestuur. Die Nels het gesê dat hierdie optrede heeltemal onaanvaarbaar is. Hulle het nou die dienste van ’n prokureur ingewin en wil die verdagte laat verhoor in ’n saak van poging tot moord. * A local man was severely injured during a road-rage incident.
More
News
|