Paarliete trotseer maalkolke en wen
2011-05-05
TWEE Paarlse roeiers, Heinrich Schloms en Giel van Deventer (Paarl Kanoklub), het die afgelope naweek kragte saamgesnoer met Lance King van die Milnerton-klub en die magtige Oranjerivier met gevaarlike maalkolke in hul K3-kano (drie roeiers) aangedurf om die SA K3 Marathon-kampioenskaptitel in te palm. Die marathon is oor twee dae gehou op die gedeelte van die Oranjerivier onderkant die Vanderkloofdam naby Hopetown. Tydens die eerste skof het die roeiers gebruik gemaak van die vol rivier en het die driestuks dié skof teen ’n gemiddelde spoed van 20 km/h voltooi. Met ’n maksimum spoed van 26,8 km/h was dit ook geen wonder dat hulle ’n nuwe rekordtyd vir die eerste skof van 1:49:27 opgestel het nie. Tydens die tweede skof het die rivier effens gedaal, maar met ’n gemiddelde spoed van 18km/h en maksimum spoed van 25, was dit vir Schloms en sy K3 maats ook moontlik om die tweede skof se rekord te laat spat in 1:50:04. Hulle het dié marathon in ’n rekordtyd van 3:39:31 voltooi. Van Deventer het ná afloop van die wedvaart vertel van groot versnellings en yslike maalkolke wat hulle moes trotseer. “Die vinnige vloei op so ‘n groot rivier veroorsaak baie groter maalkolke as op ‘n klein rivier soos die Bergrivier,” vertel hy. Alhoewel die Paarliete veilig deur al die moeilike areas kon kom, het een maalkolk ’n Gautengse K3 bemanningslid met ’n 8 meter lange boot en al ingesuig. Gelukkig is die kanovaarders se veiligheidsvoorsorgmaatreëls goed en is die manne en hul boot weer veilig laer af deur die stroom uitgespoeg en kon hulle na veiligheid swem. “Maar op so ’n vinnige, vloeiende watermassa swem ’n man maar lank voor jy weer op die kant uitkom,” het Van Deventer gesê. “Dit is gevaarlik om so ’n vol rivier aan te durf, maar gelukkig is ons ’n ervare kombinasie en as ’n man al soveel keer voorheen deur sulke waters is, dan weet jy later sommer outomaties hoe om op elke situasie te reageer ten einde veilig deur dit te kom,” vertel Van Deventer. Schloms het nou reeds vir die derde keer die Oranjerivier in die wenboot voltooi en Lance King het een vorige Oranjerivier-marathon in ’n enkelkano (K1) gewen. Dit was vir Van Deventer die eerste keer in die wenboot op die Oranje nadat hy dit al twaalf keer voltooi het. Van Deventer is ook die eerste Grootmeester (roeier bo sestig jaar) wat daarin kon slaag om ’n senior SA titel in te palm. “As ’n man begin oud word, raak jy stadiger, maar dan moet jy maar net slimmer raak. Ek was bevoorreg om die K3 boot te kon deel met die twee beste jong roeiers in die Wes-Kaap en ons kon die Gautengers en Natallers se aanslag afweer,” sê hy. Ander Paarliete wat deelgeneem het, is Herbert Conradie (Paarl) met sy spanmaats Justin Swart en Marcel Basson (K3 7de plek), JT Basson en Francois du Toit ( K2 4de plek) en Burger Coetzee en Conrad Schutte (K2 8ste plek).
More
News
|