Jan-Louw Kotze doen dit weer
2011-05-05
Sieb Sieberhagen
DIT lyk asof die geskiedenis hom herhaal in die lewe van Jan-Louw Kotze, ’n kranige veldatleet van die Paarl, wat die rekordpogings met die skyfwerp nou behoorlik inryg. Twee jaar gelede is hy gekroon as die SA o.15 skyfwerp-kampioen met ’n rekordgooi en vanjaar het hy as 17-jarige by die SA Skole Atletiekbyeenkoms wat in die Paarl aangebied is, weer koning gekraai. Hierdie keer skryf hy die o.17-titel met ’n rekordpoging van 61,88m agter sy naam. Hierdie rekordpoging en ’n uitstekende 2010/2011 seisoen is die rede waarom hy aangewys is as Paarl Post en Let’s Play se April Sportster van die Maand. Jan-Louw, ’n graad 11-leerder van Hoërskool Gimnasium, se atletiekloopbaan het in 2005 begin toe sy oom JC Kotze, ’n onderwyser, skywe in sy hand gestop het om skyfwerp te probeer. En daar in Koingnaas, ’n myndorpie aan die Namakwaland se weskus, waar Jan-Louw grootgeword het, het die gogga hom behoorlik gebyt en nou is daar omtrent nie meer keer aan hom oor wat hy met skyfwerp wil bereik nie. Die Kotzes het in 2008 Paarl toe verhuis en deesdae oefen hy onder die wakende oog van Hannes Roberts en sy pa Pieter. Aan die einde van Mei wag die Suidelike Streek Jeugkampioenskappe in Windhoek op hom en sal hy na alle waarskynlikheid ingesluit word in die Suid-Afrikaanse span wat in Julie in Frankryk aan die Wêreldjeugbyeenkoms gaan deelneem. Jan-Louw, wat gemiddeld 4 uur per dag oefen, het vanjaar reeds 67m tydens oefeninge gegooi en tydens ’n nie-amptelike byeenkoms meer as 64m. Dié baie trotse Gimmie staan 1,86 in sy sokkies en trek die skaal op 95kg en is volgens hom heelwat kleiner as die wêreld se beste skyfwerpatlete, maar “is baie tevrede” met sy tegniek. “Ek het na die bestes gekyk en my tegniek daarvolgens ontwikkel,” vertel hy. “Ek sal baie graag skyfwerp professioneel wil doen en daarvoor sal ek VSA toe moet gaan,” sê hy.
More
News
|