AS ’n oud-leerder van mnr J Williams en ook ’n lidmaat van die VGK Bergrivier Wellington wil ek graag reageer op die artikel gepubliseer in die Paarl Post van 5 Mei.
Ek wil eerstens my misnoeë uitspreek deurdat daar weer eens na die media uitgereik was aangaande situasies rakende ons kerk.
Ek is ’n jong lidmaat en die situasie in VGK Bergrivier raak my direk deurdat ek al familielede en vriende in die proses verloor het. Sulke eensydige berigte, na my mening, doen net meer kwaad as goed.
Ek reageer dus juis omdat ons as jongmense ook doelbewus uitgesluit word in die proses.
Mnr Williams het duidelik nie sy feite korrek nie. Ek wil graag sy geheue vir hom verfris. My ondervinding in die eredienste was uiters ontstellend.
Die beswaarde lidmate (BLB) het definitief nie net met die sing van ’n paar koortjies die dienste ontwrig nie. Dit was meer as dit.
Ek verwys na die gebruik van vloektaal, inkriminerende aantuigings asook die vuiste wat al geklap het. Dit alles in die huis van die Here.
Die heilige doop was ook een Sondag ontwrig deur dieselfde groep. Dit was moeilik om die trane van ’n ouer wat haar kind tot doop wou bring te aanskou.
Ek is seker dat daar iewers beeldmaterial is van bogenoemde optredes siende dat daar juis ’n persoon daardie oggend ’n video-opname wou maak.
Hoe kan julle julle optrede regverdig? Die kerk is nie ’n politieke party nie.
Hy verwys ook na die gebeurtenis van Dinsdag 19 April. Die Ring het dit duidelik gestel dat hulle ’n vergadering met die gemeente wou hê - eintlik ’n aankondiging eerder as ’n vergadering.
Dit wat die Ring daardie Dinsdag ervaar het, is maar ’n druppel in die emmer in vergelyking met wat ons elke Sondag ervaar het.
Ek word juis as Christen deur maats wat nie in God glo nie, gespot oor wat in ons kerk aangaan.
Ek wil ook aan mnr Williams en ander BLB lede noem dat ons as jong mense goed ingelig is omtrent die sogenaamde bewerings teen ds Mac Kay.
Alles wat julle tot dusver op die tafel geplaas het, kon tot vandag toe nog nie bewys word nie. Die sogenaamde klagstaat is en bly bewerings. Selfs die sogenaamde troefkaart beskik nie oor die nodige bewyse nie.
Die Ring van Wellington het wel aan die kerkraad die besluit van bandlosmaking aangekondig, maar die implimentering daarvan het nog nie plaasgevind nie. Die leraar is dus nie gestuit of band los gemaak nie.
Dis is juis as gevolg van hierdie soort uitsprake vanaf BLB bestuur asook die Ring dat Bergrivier is waar hy vandag is. Na my mening moes die Ring lankal teen die BLB opgetree het.
Bravo kom die Ring beslis nie toe nie! Ons wag vir antwoorde vanaf die Ring. Soos al die vorige kere kan julle ons nie nou weer in die duister los nie.
Let wel, vanaf Dinsdag 19 April tot nou het die kerkraad of die leraar nog geen woord van die Ring gehoor nie. Ek wil weet wat die rede of redes is vir die besluit rondom ons leraar.
En ek bedoel redes en nie losstaande gevolgtrekkings wat op gevoel geneem word nie, want enigiemand kan sulke gevolgtrekkings maak. Kyk maar na die BLB.
Ek wil ’n beroep doen op lidmate van ander VGK kerke om vir ons te bid in die donker periode waarin ons ons nou bevind. Ons jong mense het julle steun nodig.
Jong lidmaat van VGK Bergrivier