Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bewering in brief gemaak is onwaar

Bewering in brief gemaak is onwaar
 
2011-05-12


EK verwys na ’n brief in die Paarl Post van 5 Mei deur mnr JC Williams oor VGK Bergrivier. Die enigste feit in sy brief is die stelling dat ek en my vrou geskei is. Dit was ’n hartseer aangeleentheid waaroor ek nie vir een oomblik oor trots is nie, en wat nog steeds moeilik is om te hanteer. Ek en my gewese vrou het egter om gemeenskaplike redes saam besluit dat dit die beste vir beide partye is, aangesien ons uitmekaar gegroei het.

Die BLB het my van alle gruwelike inkriminerende dinge beskuldig met geen stawende bewyse van buite-egtelike verhoudings of ongerymdhede met die kerk se finansies nie.

Die kerk se boeke is geoudit en vir die gemeente beskikbaar gestel om te kom kyk, wat hulle gedoen het. Niks verkeerd kon gevind word, maar elke keer word daar net nog meer sinlose stories versprei. Alle stawende dokumente en notules is ook aan die Ring van Wellington beskikbaar gestel.

Die Ring van Wellington het wel op Dinsdag 19 April aan die gemeente kom noem dat hulle besluit het om my band met die gemeente los te maak, nie op grond van my egskeiding of ongerymdhede, soos beweer word nie, maar vanweë die onregeerbaarheid van die gemeente, waartoe die BLB bygedra het, en nie ek as leraar nie.

Donderdag 21 April is ek egter deur die voorsitter van die Ringskommissie geskakel om te sê dat ek met my ampspligte moet voortgaan, omdat niks amptelik op skrif gestel is en daar nie klaarheid oor die bandlosmakery is nie. Hy het dit weer op Donderdag 5 Mei herhaal nadat ek hom op die berig in die Paarl Post gewys het. Ter inligting: ’n Leraar se band kan slegs losgemaak word, as hy demissie van die kerkraad ontvang het.

Mnr Williams laat na om te sê dat ek met hom persoonlik in kontak was om my of die kerkraad die geleentheid te bied om met die BLB in gesprek te tree, sodat ons op ’n volwasse manier sake wat hulle ongelukkig maak, kan bespreek. Hulle het egter geweier.

Die BLB wou hê ek moet verskoning aanbied omdat ek geskei is, en toe ek dit, met die toestemming van die kerkraad wou doen, was hy die een wat in die erediens opgestaan en geskree het dat “dit nie nou die tyd is nie”. Hy was ook die een wat vuvuzelas in die eredienste geblaas het en meegedoen het met die gruwelike ontwrigting van die eredienste.

Hy praat ook van Mac Kay-aanhangers. Daar is nie so ’n groep nie. Dit is uitsluitlik lidmate van die gemeente wat hul misnoeë te kenne gegee het, aangesien die BLB lank reeds sensitiewe inligting wat by Ringsvergaderings bespreek was, bekom het.

Ons as gemeente het besluit om na die skoolsaal te gaan, aangesien dit Paasnaweek was en hulle gedreig het om selfs hierdie heilige dienste in die kerk te saboteer.

In die skoolsaal was daar ongeveer 300 lidmate by beide hierdie dienste, terwyl die BLB ongeveer 15 lede was wat in die kerksaal byeengekom het. Hulle het ook slotte om die hekke gesit daarom het ons geen keuse gehad nie as om te skuif.

Ek is ook nog steeds ’n gelegitimeerde predikant van die VGKSA en mag die sakramente bedien. Ek weet ook nie namens wie hy praat as hy sê dat ‘n predikant nou beroep kan word nie, terwyl ek nog die huidige predikant is, en die kerkraad, en nie die BLB, die mense is wat ’n leraar moet beroep, sou dit nodig wees.

Die BLB is nie meer offervaardig nie, eerbiedig nie die gebede nie, sit terwyl gesing word en so kan ek opnoem. Gevolglik het ek vrywilliglik besluit om eers terug te staan totdat die Ring uitsluitsel oor my posisie sal gee.

Ons as gemeente reik nog steeds uit na hierdie minderheidsgroepie en bid vir hulle.

Ds James Mac Kay




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za