Kuier op Wellington
2005-10-20
DIE tyd vir die Stokkiesdraai Kunstefees kom nader. Dit word vanjaar vir ’n week lank aangebied van Saterdag 22 tot Saterdag 29 Oktober, wanneer afgesluit word met die Egoli Roadshow en ’n konsert deur die sanger Dozi.
Die fees begin Saterdagaand om 19:00 met ’n Afskopkonsert in die tent op Boland-stadion se B-veld met sangers Ronél, Rooies, Alan Hughes en Pieter Smith.
Maandag tree Marion Holm daar op met die produksie “Sussie rafel nou uit!” by Hugenote Laer (19:00).
Die produksie “Koos en Rocco, Kombuis en Bar, Klavier en Kitaar” is dieselfde aand in die Hugenote Hoërskoolsaal met Rocco de Villiers en Koos Kombuis (20:00).
Dinsdag is Pedro Kruger en Marion Holm by Laerskool Hugenote (19:00) met “Op die Tafel”. Wynand Strydom tree in die CP van der Merwesaal op (20:00).
Woensdag om 19:00 is daar bekendes in musiekteater op Boland-stadion se A-veld: Afrikiti met Rina Hugo, Soli Philander, Sibongile Mngoma, Nina Swart, Hi-5 en ander.
Donderdagaand 27 Oktober is die produksie “Ysterasters” met Nina Swart, Petro van den Heever, Ilsa Schmidt, Martelize Kolver, Hilda van Lill en Elsabé Daneel in die Hugenote Hoërskoolsaal (19:00), terwyl “Jannie en die Tannie” met Jannie du Toit en Christa Steyn in die van der Merwesaal te sien is (20:00).
Vrydag 28 Oktober tree Patricia Lewis op by Hugenote Laerskool om 19:30 en op die A-veld is Stokrock van 18:00 af.
Saterdag 29 Oktober is die Egoli Roadshow in die tent op die B-veld van 11:00 tot 17:00, gevolg deur Pieter Koen en Dozi om 19:30.
Die boere-orkes Baardskeerdersbos asook André Victor en sy orkes tree op in die kuiertent.
* Buite-aktiwiteite sluit in ’n Gesins 4x4 en ’n tuinbouoggend met Reg Botha asook die Bainskloof Pretdraf Saterdag.
Op 29 Oktober is daar ’n vroue 4x4, vroueoggend (makeover) by Provence (09:00), werkswinkel vir die nutsman met Riaan Venter en die Famsa Kiskarwedrenne (08:00).
Tydens die week sal daar ook die Boland Werkhond Streekskampioenskap wees, besigtiging van tuine en geskiedkundige uitstappies.
More
News
|