DIE brief van Gesie van Deventer, burgemeesterskandidaat van die DA, spreek duidelik van onkunde en oningeligtheid.
Laat my toe om sekere aspekte reg te stel.
Klagtes van die publiek word hanteer binne die wetlike en funksionele bevoegdheid van die Munisipaliteit.
So byvoorbeeld het munisipaliteite beperkte bevoegdheid in terme van riviere en kan riviere net bestuur word in samewerking met die Departement van Waterwese.
Die Raad het reeds begroot vir die bekamping en verwydering van indringer-plantegroei en twee spanne werkers sal binnekort begin om suid en noord van die Markstraatbrug opruiming op die rivier te doen.
Die skielike klagtes oor toerisme kan ’n mens maar net oor wonder. Kan dit wees dat van die DA-raadslede en kandidate besigheidsbelange by toerisme het (gastehuise, restaurante op hul plase)?
Is die DA-kandidaat nou ook ’n bouinspekteur?
Hierdie ANC-beheerde Raad het duisende gesinne in huise van goeie kwaliteit gehuisves.
Daar is ’n geringe persentasie van die huise wat defekte het, maar daar is prosesse waar die Raad saam met kontrakteurs en die inwoners die regstellings doen.
Gaan kyk maar gerus na die kwaliteit van huise in ander omliggende dorpe, sommige waar die DA in beheer is, en dan kan die DA-kandidaat maar weer met my kom gesels or sogenaamde swak kwaliteit huise.
Daar is vandalisme en diefstal in sommige speelparke. Hierdie Raad het egter oral oor Drakenstein speelparke gebou waar daar voorheen niks was nie.
Indien die DA-kandidaat werklik die plaaslike media volg, sal sy bewus wees dat die Raad ’n beroep op die gemeenskap doen om saam met ons te werk om bates te beveilig en gebiede te verfraai.
Drakenstein was aangewys as die groenste stad in die hele land as gevolg van die groot aantal bome en struike wat ons aangeplant het.
Graag verneem ons waar die riool uit ablusieblokkie loop. Waar en wanneer daar blokkasies is, moet dit onmiddellik aangemeld word sodat dit aandag kan geniet.
Die maklikste ding op aarde is om klippe te gooi, veral gedurende die “silly season” – alombekend as verkiesingstyd.
Daarom beskou ek Gesie van Deventer se brief as niks anders as ’n goedkoop verkiesingsfoefie nie, en ek lees dit maar “tong in die kies”.
Die ANC-beheerde Raad het rede om trots te wees op wat ons die afgelope vyf jaar bereik het. Byvoorbeeld: ongekwalifiseerde oudits, meer as 100% spandering van ons behuisingstoekenning; en uitbreiding van die rioolwerke vir meer as R300 miljoen.
Hierdie belegging maak voorsiening vir 12 000 nuwe geleenthede vir ontwikkeling.
Ons tariewe vergelyk baie goed, en is in die meeste gevalle laer as dié van naburige dorpe.
Baie politici maak beloftes voor die verkiesing. Die ANC beroep hom liefs op die gemeenskap om saam met die regering te werk. So Gesie, ons sal maar sien…..
Raadslid Charmaine Manuel
Uitvoerende Burgemeester (ANC)